)

ATKV-toneelaanbod 2025 ‘Magneties’ – ATKV Toneel

ATKV-toneelaanbod 2025 ‘Magneties’. Die ATKV se toneelaanbod is jaarliks verfrissend vir gehore en hou nie terug met kreatiwiteit en verrykende stories wanneer dit gemeenskappe landswyd in teaters opvoed, inspireer en bemagtig nie.

Vanjaar bring die ATKV weer sy vier toneelprojekte na gehore onder ’n nuwe inspirasietema: MAGNETIES!

JJ van Niekerk is die projekorganiseerder van die ATKV se toneelaanbod. Hy is van mening dat jou talent en passie die uitgesoekte magnete is. Dit beweeg vrylik en vreesloos in die ATKV se toneelruimte. Verder kan dit ook rondbeweeg om magneties elke gehoorlid te beïnvloed. Dit is sodat elkeen ’n bepaalde rigting kan inslaan en met ’n unieke krag in jou storierigting kan verdwaal. Dit is om iets te voel en verandering teweeg te bring.

Sy wens is dat elke deelnemer aangetrek word deur hul liefde vir toneel. Ook dat dit weggestoot sal word van die dinge wat in hul pad staan om in hulself te belê. Só kan jy saam met die ATKV deel van ’n magneet-generasie word.

Die toneelaanbod onderstreep onlangse mylpale wat swaartekrag bied aan sy toneelaanbod. Dit sluit die volgende in:

ATKV-AGENT VIR MEES BELOWENDE AKTEURS


Die ATKV word jaarliks deur produksiehuise genader vir die nuutste en beste talent wat die jaar opgelewer het. Die ATKV het daarom vanaf 2024, tydens die nasionale finaal, ook ’n ATKV-agentlys saamstel. Vir elke akteur is ’n bemarkbare profiel as prys gebou sodat hulle die industrie met selfvertroue kan ingaan. Dit is ’n verdere opwindende en geakkrediteerde geleentheid vir ons deelnemers wat presteer in die ontwikkeling van toneelvaardighede.

SKOLE KAN MEKAAR MAGNETIES AANTREK


In die gees van magnetiese aantrekkingskrag kan skole nou hande vat en saam inskryf vir ATKV-Tienertoneel. Dit is die ATKV se wens dat meer en minder ervare skole juis hierdie geleentheid sal aangryp. Daarmee saam kan hul talent slyp, by mekaar leer en toneelvaardighede in goeie gees te ontwikkel. Dit terwyl gemeenskappe saam sosiale en ekonomiese uitdagings oorbrug.

AANLYN TEKSBIBLIOTEEK ANKER TEATERMAKERS


Die ATKV het in 2024 ’n aanlyn toneelbiblioteek tot stand gebring, bestaande uit ’n versameling uittreksels uit nuwe tekste wat jaarliks toekennings tydens ATKV-Tienertoneel- en ATKV-Tjokkertoneelstreeksfeeste ontvang het.

Voornemende deelnemers wat na nuwe literatuur op soek is, kan sodoende die sinopsis, rolverdeling en ’n volledige toneel van die produksie op een plek deurlees en dan, deur die ATKV se toneelbiblioteek as netwerkplatform, die volledige teks en opvoerregte direk by die dramaturg bekom. Dit is opnuut ’n netwerk vir skole en teatermakers om in kontak te kom met jong en opkomende dramaturge wat nuutgeskrewe tekste ontwikkel.

ATKV-SÊR IS ONWEERSTAANBAAR!


Sêr is onlosmaaklik deel van die ATKV en kreatiewe menswees. Dit bou selfvertroue en gee jou selfs die woordeskat as jou eie woorde opraak. Die bekendstelling van ATKV-Sêr aan hoërskole in 2024 het ’n unieke dinamika in ATKV-Sêr na vore bring omdat tieners se kreatiwiteit tydens ander ATKV-Toneelprojekte bewys het dat dit juis ons tieners is wat vreesloos geïnspireerd is om hul kultuurvaardighede te ontwikkel en met baie gemak grense te verskuif.

‘GEKIES VIR DIE KOLLIG’ VAT VYF IN 2025!


Ons ATKV-DigiToneelfinaliste maak weer hul buiging op televisie met die ATKV se realiteitsprogram, Gekies vir die Kollig, waarvan die vyfde seisoen in Oktober 2025 uitgesaai word op DStv-kanaal 147 (VIA).

Die opwindende ligging vir die stel van Gekies vir die Kollig (seisoen 5) is nog ’n geheim, maar kykers kan verseker wees van ’n leefstylervaring met swaartekrag saam met die ontdekking van ons land se nuutste talent vir die kamera.

ATKV-Tienertoneel

Die ATKV-Tienertoneelkompetisie kweek ’n liefde vir toneelskepping in Afrikaans, toneelspel en teater-kyk by hoërskoolleerders.

Dié oudste projek van die ATKV is in 2025 een-en-sestig jaar jonk en bied steeds ’n platform vir talentontwikkeling en is ’n smeltkroes van kreatiwiteit.

Met ATKV-Tienertoneel word elke regisseur aangemoedig om vir die leerders soveel geleenthede moontlik te gee om by al die aspekte van die projek betrokke te raak, met ander woorde by die spel en regie, die skryf van tekste, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie, ensovoorts.

Jy kan die deelnemersgids hier aflaai.

Inskrywings sluit op 25 April en die inskrywingsvorm is hier beskikbaar.

ATKV-Tjokkertoneel

Die doel van ATKV-Tjokkertoneel is die skep van ’n nasionale platform vir talentontwikkeling ter viering en opbou van laerskoolkinders deur toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan goeie literatuur aan te moedig.

Met ATKV-Tjokkertoneel word laerskole aangemoedig om jong leerders deur middel van mini-tonele aan teaterkuns en drama bloot te stel. Deur die opbouende proses van toneelspel ontwikkel kinders selfvertroue, kommunikasie- en luistervaardighede en verbreed hul woordeskat.

Kom leef dus jou liefde vir toneel uit en betower gehore op die ATKV-Tjokkertoneelverhoog met jou laerskool se beste mini-toneel.

Jy kan die deelnemersgidshier aflaai.

Inskrywings sluit op 25 April en die inskrywingsvorm is hier beskikbaar.

ATKV-DigiToneel

ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n nuwe temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm.

Die ATKV gaan hierdeur in sy doel slaag om ’n liefde vir toneelskepping en film te bevorder deur op kameraspel, kinematografie en die skryf van tekste te fokus.

Ons finaliste maak hul buiging op televisie met die ATKV se realiteitsprogram, Gekies vir die Kollig, wat op DStv-kanaal 147 (VIA) uitgesaai word.

Ontwikkel jou spel vir die kamera en gee jou skryftalent vlerke saam met ons mentors!

Jy kan die deelnemersgids hier aflaai.

Inskrywings sluit op 8 April en die inskrywingsvorm is hier beskikbaar vir skole en hier vir individue

ATKV-Sêr

Die ATKV het sy eerste nasionale sêrkompetisie vir studente in 1997 aangebied en het in 2024 die stokkie oorgegee aan ons kreatiewe tieners om met hierdie gemaklike uitvoerende-kunstemedium te eksperimenteer. ATKV-Sêr is ’n a capella-kompetisie wat in sy tienerformaat neig na musiekteater deur tema, sang, dans en storievertelling.

Nuwe komposisies en musieksamestelling blaas ’n vars bries by a capella in om magnetiese gehoorontwikkeling te verseker.

Jy kan die deelnemersgids hier aflaai.

Inskrywings sluit op 25 April en die inskrywingsvorm is hier beskikbaar.

Kontak gerus vir JJ van Niekerk, ATKV-toneelaanbod-projekorganiseerder, per e-pos by jj@atkv.org.za of by 076 391 3414 vir enige navrae.

Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/

https://atkv.org.za/

Foto verskaf

Become a Sponsor

Related Posts

KZN Marlins Basketball – St John’s D.S.G. outstanding

KZN Marlins Basketball. Lamia Amod Joins the KZN Marlins! St John’s D.S.G. is thrilled to celebrate Lamia Amod, whose exceptional talent and determination have earned her a coveted place in…

Gedagte vir die Week – Thought of the Week

Gedagte vir die Week – Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. Psalms 16: 5-7 Thought of the Week –…

Leave a Reply

You Missed

KZN Marlins Basketball – St John’s D.S.G. outstanding

KZN Marlins Basketball – St John’s D.S.G. outstanding

Gedagte vir die Week – Thought of the Week

Gedagte vir die Week – Thought of the Week

Teemane Karateklub Winter Challenge – Hoërskool Kalahari

Teemane Karateklub Winter Challenge – Hoërskool Kalahari

EP U18 youth rugby – Pearson High School outstanding

EP U18 youth rugby – Pearson High School outstanding

Sharks U18B Team Selection – St Charles College delighted

Sharks U18B Team Selection – St Charles College delighted

Vrystaat Provinsiale Danskampioenskap – Hoërskool Sentraal

Vrystaat Provinsiale Danskampioenskap – Hoërskool Sentraal