ATKV DigiToneelkompetisie. Die ATKV het vanjaar die teatergrense verder verskuif met sy DigiToneelkompetisie. Die top-10-finaliste het hulle buiging gemaak in hul eie nuutvervaardigde realiteitsreeks vir Via, Gekies vir die Kollig, op DStv-kanaal 147.
Honderde inskrywings, sewe mentorbeoordelaars, tien finaliste en een wat gekies is vir die kollig!
Die wenner van die ATKV-DigiToneelkompetisie is op 25 Oktober 2021 gekroon. Dit het gebeur tydens die finale episode van Gekies vir die Kollig.
Elzaan Daniels (18) van die Hoërskool Jan van Riebeeck is gekies vir die kollig met haar eie nuutgeskrewe monoloog, My future is innie verliede.
Teks verbysterend
Dr. André Gerber (mentorbeoordelaar) beskryf haar teks as verbysterend, eerlik en van die hart. Wilhelm van der Walt (mentorbeoordelaar) beskryf haar spel as dié van iemand wat haar lewe aan die lyn laat hang. Dit is geloofwaardig omdat elke oomblik uit die hart kom.
Elzaan stap weg met ’n kontantprys van R5 000 asook die ATKV-DigiToneeltrofee. Verder ontvang sy ’n jaar se lidmaatskap tot Novieguide se praktiese inleidingskursus tot film en spel vir die kamera.
Naaswenner
Die naaswenner is Themelios Demas van die Hoërskool Tygerberg met sy monoloog, Dis mos wat pa’s doen. Tim se spel word deur Lea Vivier (mentorbeoordelaar) beskryf as aangrypend en rou. Dit is ’n uitsonderlike kwaliteit van ’n akteur. Themelios ontvang ’n kontantprys van R3 000 vir sy prestasie tydens die finaal.
Die wenner in die derde plek is Zara van der Westhuizen van die Hoër Meisieskool Bloemhof. Sy het beoordelaars verstom het met haar nuut en selfgeskrewe monoloog, KOP. Zara ontvang R2 000 kontant vir haar podiumplek tydens vanjaar se ATKV-DigiToneelfinaal.
Die ATKV ontgin voortdurend nuwe skryftalent. Hulle het die beste nuutgeskrewe monoloë wat tieners self vir vanjaar se ATKV-DigiToneelkompetisie geskryf het in ’n bundel saamgevat. Die bekendstelling van hierdie bundel lewer bewys van ons jeug se aanpasbaarheid. Verder bewys dit na ’n drang om nuwe karakters en stories te skep wat nooit sal opdroog nie. Dit is die tweede monoloogbundel wat die ATKV met trots publiseer. Die eerste aanbieding van die ATKV DigiToneelkompetisie is verlede jaar aangebied.
Die nuwe tekste wat 80% en meer tydens vanjaar se kompetisie behaal het, gaan deur hierdie bundel stories in die volksmond word. Dit gaan vlerke kry en ook die eiendom van ander word.
Klik hier om die bundel gratis af te laai.
Dit was ’n onvergeetlike seisoen. Passie en jong talent het ontplof op TV-skerms in ’n splinternuwe realiteitsreeks vir Via op DStv-kanaal 147. Die reeks, Gekies vir die Kollig, is op DStv Catch Up in ’n boksstel beskikbaar. Kry dit indien jy die regstreekse uitsending misgeloop het.
Sien Video Hiernaas
Lees meer oor toneel van skole: https://schoolsthatrock.co.za