Netbal Kaptein. In ons gewilde reeks oor sport kapteine gesels Schools That Rock van dag met Somé Louw. Somé is die 1ste Netbalspan Kaptein van Hoërskool Bredasdorp in die Wes-Kaap. Sy behaal vandag die eerste doel in ons reeks van Netbal Kapteine van skole in Suid-Afrika en Namibië.
Somé, op watter ouderdom het jy begin netbal speel?
- Ek speel al vanaf Graad R netbal, so, toe ek omtrent 6 jaar oud was.
Is jy werklik passievol oor netbal? Hoekom?
- Ja, definitief. Netbal is al vir baie jare iets waaroor ek so ‘n paar vlinders in my maag kry en wat my werklik opgewonde maak. Dit is soos ‘n wegbreek van alles en dis ‘n veilige spasie waar ek altyd my kop kan skoon kry. Ek het al baie nuwe netbal-familie gekry wat ‘n baie positiewe, opbouende en gelukkige atmosfeer skep. Daar is niks lekkerder as goeie, kompeterende netbal nie.
Neem jy ook aan ander sportsoorte deel?
- Ek het my hele lewe lank aan omtrent alles deelgeneem – van onderwaterhokkie, hokkie, swem tot atletiek. Ek het in matriek besluit om net op netbal te fokus, aangesien die program klaar so oorweldigend is.
Watter posisie speel jy tans? Het jy enige ander posisies in die verlede gespeel?
- Ek speel op die oomblik doel en het feitlik altyd gewissel tussen doel en hulpdoel, so ek is regtig ‘n doel tot by my kern.
Was jy al voorheen kaptein van ‘n netbalspan? In watter graad?
- Ja, ek was al kaptein. Ek was ‘n paar keer in my laerskool-loopbaan kaptein van my span, ek dink vanaf graad 5 tot 7. Ek was ook verlede jaar kaptein van die o/19-netbalspan.
Gedurende watter wedstryd het jy, as Netbal Kaptein, die meeste gestres? Waarom?
- Ons het verlede jaar teen Swellendam gespeel en dit was een van ons laaste wedstryde vir die seisoen. Dit was die enigste wedstryd wat tussen ons en ‘n onoorwonne seisoen gelê het. Teen die derde kwart was ons omtrent met 10 doele agter. Teen die einde van die wedstryd het ons met 2 doele gewen. Gedurende die laaste kwart het elke doel werklik saak gemaak en ek dink die hele span se stresvlakke was redelik hoog.
Het jy enige doelwitte wat jy graag in die huidige seisoen wil bereik?
- Ek dink as ‘n span moet ons altyd streef na ‘n gesamentlike doel en ons beste gee, so meestal net om te bou op verlede jaar se vordering. Ons werk ook om onoorwonne die seisoen te wees, en ek sal graag ‘n goeie gemiddelde doelpersentasie wil hê. Ons interskole teen Montagu is ook natuurlik ‘n jaarlikse doelwit wat bereik moet word.
Beplan jy om na jou skoolloopbaan voort te gaan met netbal? Indien wel, op watter vlak?
- Definitief, ek sal graag vir ‘n universiteit of koshuis wil speel as ek die geleentheid kry. Andersins sal ek by ‘n netbal-klub aansluit.
Watter skool, indien enige, beskou jy as jul sterkste teenstander?
- In ons liga sou ek sê Charlie Hofmeyr. Swellendam het ook ‘n baie sterk span hierdie jaar.
Wat doen jy, as Netbal Kaptein, om jou span gemotiveerd te hou?
- Ek probeer om ‘n gesonde en geesdriftige atmosfeer te skep waar almal weet dat ons verantwoordelik is vir mekaar. Daar word glad-nie neergekyk op enige iemand se foute nie, daar word eerder planne gemaak om vorentoe te beweeg. Ek dink opbouende woorde, integriteit en ‘n goeie voorbeeld gaan ‘n lang pad. Ons het ook stilte tyd voor elke wedstryd, wat elke speler se kop voorberei en waar ons ook mekaar kan motiveer.
Is daar ‘n afrigter of netbalspeler na wie jy tans opsien as rolmodel en hoekom?
- Ek kyk baie op na Nicole Taljaard. Sy speel netbal vir Suid-Afrika. Ek dink die stylvolle manier waarop sy ‘n naam vir haarself gemaak het en die manier hoe sy al die druk kan hanteer, veral in hulle Wêreldbeker wedstryd teen Nieu-Seeland, is merkwaardig. Sy het nooit terug gestaan vir enige iemand nie en het net haar ding gedoen.
Wat was jou grootste netbal nagmerrie/ ervaring tydens ‘n wedstryd? Indien enige.
- Ek sou nie sê daar is ‘n spesifieke situasie nie, maar dit is altyd sleg as ‘n spanmaat beseer word of as jy in jou eie kop klim en nie jou man kan staan nie.
Somé, wat het jy omtrent spanwerk geleer sedert jy kaptein geword het?
- Net weereens hoe belangrik spanwerk werklik is en hoe invloedryk elke skakel in die ketting is. Een persoon kan die hele span beïnvloed, dus is dit so belangrik om mekaar te dra en op te lig as een persoon sukkel of nie sy kant bring nie.
Beskryf jou hoogtepunte wat jy beleef het in netbal as speler en/of as kaptein.
- Ek sou definitief sê om die samehorigheid en hoe my span mekaar dra, te kan beleef, is definitief ‘n hoogtepunt vir my. Om sulke hegte vriendskappe te vorm, speel ‘n groot rol in die “chemistry” tussen ons op die baan ook, wat baie lekker is om te kan ervaar. As ‘n kaptein, is die vertroue tussen my spanmaats iets wat my werklik trots maak.
Wat was die beste advies wat jy al van jou afrigter/s ontvang het?
- Jy hoef nooit terug te staan vir enige iemand nie, maak nie saak van waar jy kom. Jy kan altyd nederige selfvertroue hê en moet nooit skaam wees om jou staal te wys nie. Daar is tog net een dorp, Bredasdorp.
Beskryf die lekkerste wedstryd wat jy ooit gespeel het.
- Ons het verlede jaar by ‘n top skole wedstryd teen Girls High gespeel. Dit was net so lekker om teen so ‘n goeie span te speel, dat ons vlak van spel vansself gestyg het. Hulle het wel goed gewen, maar dit was definitief nie so maklik nie. Dit was goeie, skoon en kompeterende netbal. Ons het van die baan af as wenners gestap.
Watter wedstryd was sover in jou loopbaan jou moeilikste wedstryd?
- Ons het die afgelope Maart vakansie teen Hoërskool Menlopark gespeel by die Paarl Gimfees. Hulle spel was op so ‘n ongelooflike vlak, ons het verstom gestaan. Ek is trots om te sê dat ons definitief nie gaan lê het nie, maar dit was moeilik om planne te maak en aan te pas by so ‘n hoë pas van netbal.
As jy ‘n kombuis-artikel sou wees, wat sal jy wees? Hoekom?
- Ek dink ek sou ‘n ketel wees, omdat dit ‘n effektiewe en vinnige hulpmiddel is wat belangrik en veelsydig is. Wat is nou beter as ‘n lekker koppie koffie?
Met watter professionele netbalspeler sou jy graag wil koffie drink? Waarom?
- Ek sou graag met Lenize Potgieter, Suid-Afrikaanse professionele Netbalspeler wou koffie drink. Sy is ‘n baie ervare en talentvolle vrou, na wie ek al vir jare opkyk. Ek dink sy sal baie geheime hê om met my te deel en ek sal dit baie geniet om van al haar ervaringe te hoor.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf