Hoofseun 2024. In ons reeks oor Hoofseun 2024, gesels Schools That Rock vandag met die Hoofseun van Hoërskool Bredasdorp in die Suid-Kaap, Lohann Fourie.
Lohann, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskapervaring?
- Ek is Lohann Fourie, hoofseun van Hoërskool Bredasdorp vir 2024. Ek is ‘n baie veelsydige sportman en doen goed in alles wat ek aanpak. Ek is ‘n persoon wat staan vir wat reg en verkeerd is. Ek is ’n kind van God en ek eer Hom vir alles wat ek bereik en doen. Ek was hoofseun in die laerskool en kaptein van verskeie spanne in my hoër- en laerskoollooopbane.
Wat is jou mees belangrike waardes as leier?
- My mees belangrike waardes as leier is respek en integriteit. Respek en integriteit vir jou onderwysers, familie, mede-leerders en die heel belangrikste, vir jouself. Respek het my al ver in die lewe gebring. Ek is al van kleins af geleer om respek te hê en dis iets wat ek aan ander wil oordra. Respek en integriteit maak jou wie jy is en beïnvloed hoe ander jou sien.
Vertel ons meer van jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Hoërskool Bredasdorp?
- My persoonlike doelwitte vir dié jaar is om aan my leierskap te werk, myself ‘n sterker leier te maak. Ook om die leierseienskappe eendag in ‘n werskgebied te gebruik waar ek met mense gaan werk. Ek wil hierdie jaar een persoon se lewe op ‘n positiewe manier verander. Ek wil hê mense moet opkyk na my en sê dis hoe hulle wil wees en waarna hulle wil strewe.
Wat is jou sterkste leiers-eienskap?
- My sterkste leiers-eienskap is goeie maniere en om ander te dien. Nie toe te laat dat ander my dien nie. Hoofseun wees maak my nie belangriker as al die ander nie. Dit plaas my net in ‘n posisie om te lei en ‘n verskil te maak.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Die grootste faktor is om elke dag positief te wees en positief voor en teenoor my raad op te tree. Om dinge op kreatiewe maniere te doen. Dit maak hulle positief en vol energie. Die samewerking is dan baie goed en dinge loop net vlot.
Lohann, as jy enige honderas kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
- Definitief ‘n rifrug. Hulle is vol energie en maak altyd jou dag. ‘n Rifrug is ernstig wanneer daar nie gespeel moet word nie. Hulle is baie beskermend oor die mense vir wie hulle lief het. Hulle is ook baie intelligent en leer vinnig nuwe dinge aan. Hulle is ook uiters lojaal.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- Ek glo daar is twee tipes mense in die wêreld. Een mens aanvaar verandering en die ander een is bang daarvoor,of hou nie daarvan nie. ‘n Mens lei deur jou aksies en deur die voorbeeld wat jy stel. Ek sal my span deur verandering lei deur vir hulle te wys hoe ek verandering aanvaar en dat ‘n mens die beste van enige situasie kan maak.
Wat staan die meeste vir jou uit by Hoërskool Bredasdorp?
- Ons goeie gees en ons vriendelike onderwysers.
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
- Ek kyk op na my ma. Sy is die een wat my gemaak het wie ek vandag is. Sonder haar lewenslesse en motivering sou ek beslis baie anders gewees het. My waardes sou verskil en my kennis oor die lewe sou nie so baie gewees het nie. Sy leer my om elke dag nederig te wees Ek sien baie uit om nog meer by haar te leer.
Wat was die hoogtepunt van jou skoolloopbaan tot dusver? Hoekom?
- Die hoogtepunt van my skoolloopbaan tot dusver, was ons graad 11-skooltoer (Kringe in ‘n bos). Ek het so baie nuwe goed gesien. Dit het my baie naby aan my vriende gebring en dit was net als groot pret.
Lohann, waaroor dagdroom jy?
- Ek dagdroom oor my volgende tenniswedstryd. My strategie is om nog een in die sakkie te kry.
Hoe sal jy graad 7 leerders oorreed om jou skool van graad 8 af te oorweeg?
- Toe ek in graad 7 was, het my ma die dag na my toe gekom en gesê ek kan enige skool kies waarheen ek wil gaan. Ek het nog altyd in landbou belanggestel en van kleins af wou ek na ‘n landbou skool toe gaan (Oakdale). Ek het een aand gesit en iets het net vir my gesê ek moet in my eie huis bly en op my eie dorp skoolgaan. Ek het net daar die keuse gemaak! Ek gaan Hoërskool Bredasdorp toe. Ek kan eerlik sê ek was nog nie een oomblik spyt ek het die keuse gemaak nie. Ons skool se gees is seker van die beste in die land. Ons vriendelike onderwysers is iets wat ‘n mens glad nie miskyk nie. Dit maak skool net soveel beter. In Hoërskool Bredasdorp kan ek myself wees. Ek kan presteer in sport, die nommer een tennis -speler in my skool wees én eerstespan hokkie speel. Ook op droomtoere gaan en nuwe dinge beleef. Wat meer het ek nodig?
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter universiteit?
- Ek wil graag na skool BAgric in Landbouproduksie en Bestuur by Elsenburg gaan studeer.
Lohann, hoe sal jou vriende jou beskryf?
- Hardwerkend, altyd vol energie, baie veelsydig, goed in als wat hy aanpak en die juffrou of meneer se favourite.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf