Rugby Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met HJ de Beer. HJ is die kaptein van Hoërskool Monument, Krugersdorp in Gauteng, se 1ste rugbyspan. Hy druk vandag die dertiende drie in ons reeks oor Rugby Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek speel al rugby vanaf sesjarige ouderdom. Ek hou van rugby omdat dit vir my lekker is om deel te neem aan ‘n spansport. Van kleins af het ek saam met my pa rugby gekyk en het dit altyd so lekker gevind. Dit is die rede waarom ek besluit het om te begin rugby speel.
Vanaf my eerste wedstryd het ek geweet dat daar vir my niks lekkerder in die lewe is as rugby nie.
My raad aan beginners in rugby is om nooit moed op te gee nie. Indien jy ‘n sukses van rugby, of enige sport, wil maak moet jy bereid wees om hard te werk.
Die posisie wat ek tans speel, is nommer vier slot. Ek het ook al voorheen stut gespeel.
Die eerste keer wat ek as onder-kaptein gekies is, was toe ek O.11 gespeel het. Die eerste keer wat ek as kaptein gekies is, was toe ek o.16 gespeel het. Volgens my is die belangrikste taak van ‘n rugby kaptein om altyd ‘n voorbeeld te stel en nooit moed op te gee nie, ongeag van hoe moeilik dit op die veld gaan.
Motivering
Ek hoef meestal nie my span baie te motiveer nie. Die ouens is almal baie ‘committed’ en ons het almal dieselfde ‘mindset‘ oor wat ons as span wil bereik. Ek motiveer ook my span deur te bewys dat ek elke wedstryd my alles gee.
Ons span oefen vyf keer per week wanneer ons die naweek ‘n wedstryd speel. Ek en ‘n paar van my spanmaats oefen bykans elke dag by die gimnasium.
Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie rugbyspeler moet beskik, is om te kan lei, maar ook om gelei kan word. ‘n Goeie sportmangees is ook baie belangrik op en van die veld.
My sleutel tot sukses op die rugbyveld as rugby kaptein, is dat ek vir meer as net myself speel. Die ouens langs my op die veld is my inspirasie elke keer wanneer ek op die rugbyveld stap.
Lekkerste wedstryd
My lekkerste wedstryd in my rugbyloopbaan was my eerste wedstryd wat ek vir die Wit Bulle gespeel het. Dit was vir my ‘n voorreg om vir die eerste span, wat so baie gees en geskiedenis het, te kon speel. Dit was vir my net ongelooflik!
My slegste wedstryd het nog nie plaasgevind nie, maar ek sal maar solank sê dit sal my heel laaste wedstryd in ‘n Wit Bul trui wees.
As rugby kaptein sien ek uitdagings nie as druk nie, maar as ‘n geleentheid om te presteer of om iets groter te bereik. My beste rugby-besluit ooit was om van my skool in Namibië te skuif na Hoërskool Monument in Suid-Afrika.
Na ‘n moeilike wedstryd bedank ek eerstens die Here vir die geleentheid wat ek gehad het en dan vra ek raad vir die mense naby aan my.
Top prioriteite
My top 5 prioriteite is om eerstens ‘n sukses van my rugby te maak. Tweedens wil ek almal vir wie ek omgee gelukkig hou. Om te gaan studeer en ‘n graad te behaal is my derde prioriteit. Vierdens is dit om harder te werk aan elke aspek van my lewe en vyfde is om gelukkig te wees met wat ek doen en die besluite wat ek maak.
My grootste rugbyheld is die oud-Springbok Bakkies Botha.
My doelwit wat ek graag hierdie jaar as rugby kaptein wil verwesenlik is om die Noordvaal beker te wen in my laaste skooljaar.
Die persoon wat my al die meeste verras het, is Dylan Viljoen. Hy het in een wedstryd, tydens ons toer, amper dertig ‘rucks gehit’.
Zain Henery
Die persoon wat die nommer een nar in ons span is, is Zain Henery, ons buite ‘senter’.
Ek dink my afrigter en spanmaats sal my beskryf as iemand waarop jy kan staatmaak en vertrou. Ja, ek beoog om na skool voort te gaan met rugby. Ek sal graag op provinsiale vlak of hoër wil speel.
Die grootste uitdaging waarvoor vandag se sportlui te staan kom, is dat daar so baie sportmanne en -vroue daar buite is. Jy moet bereid wees om harder as hulle almal te werk.
Ek glo ek handhaaf ‘n goeie balans tussen rugby asook my sosiale en akademiese verpligtinge deur genoeg tyd aan elkeen te spandeer.
Die toekoms maak my die meeste opgewonde, want soveel is nog moontlik en jy kan dit beïnvloed sodat dit na jou kant toe uitdraai as jy elke dag daaraan werk.
My grootste hoogtepunt die afgelope vyf jaar, was om Grand Khomo in 2019 te kon speel en om Monnas se eerstespan rugby kaptein te wees. Monnas is ‘n skool met soveel rugby geskiedenis.
Die persoon met wie ek graag wil koffie drink, is Ruan Nortje. Ek het baie respek vir hoe hard hy in elke wedstryd speel.
Ek sal myself in een woord beskryf as hardwerkend.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf