Hoërskool Robertson. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Jean-Mari Terblanche, Hoofdogter van Hoërskool Robertson vir 2022.
Jean-Mari, hoe sien jy jou rol as Hoofleier van jou skool?
Dit is vir my ‘n baie groot voorreg om die geleentheid te hê om Hoërskool Robertson se hoofdogter van 2022 te wees. Ek sien dit as ‘n geleentheid om ‘n voorbeeld te stel. Ek wil ook ‘n stem vir die leerders te wees en Robertson Hoërskool ‘n omgewing te maak waar elke leerder vry voel om hul eie passies en talente uit te leef. ‘n Aanhaling wat nog altyd vir my uitgestaan het, was dié van Donald McGannon. Dit die ingesteldheid waarna elke leier moet streef, perfek opsom. Hy het gesê : “Leadership is not about the role we hold in an organization, rather it is about the action we choose to take.”
Hoe het die afgelope 4 jaar by Robbies jou vir die rol as leier voorberei?
Hoërskool Robertson is ‘n skool waar aktiewe deelname aangemoedig word. Hier maak dit nie saak wie jy is of waarvandaan jy kom nie. Die ondersteuning wat ek ontvang het, het my gemotiveer om altyd harder te probeer en om ‘n beter weergawe van myself te word. Robertson Hoërskool het my geleer om terug te ploeg in die gemeenskap, sowel as die waarde daarvan om jou medemens bo jouself te stel. Of dit nou was op die sportveld, akademiese – of kultuurgebied, het ek soveel waardevolle lewenslesse geleer wat my geslyp het in die persoon wat ek vandag is.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Dit sal onregverdig wees om ‘n enkele persoon uit te lig, aangesien ek op ‘n daagliks basis deur verskeie mense geïnspireer word. Elke “Robbie-onnie” is vir my ‘n mentor, elk op hul eie, unieke wyse. Van afrigters tot motiveringsprekers tot iemand om my trane af te vee – Robertson Hoërskool het ietsie van alles!
Ek is trots om te sê dat my ouers my persoonlike mentors was vir die afgelope 17 jaar. Sonder hul leiding, voorbeeld, ondersteuning en liefde sou ek nie wees waar ek vandag is nie.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Ek beoog om na skool te gaan studeer in die mediese veld. Nadat ek my graad verwerf het, beplan ek egter om aan te sluit by ‘n organisasie wat mediese dienste verskaf aan minderbevoorregte gebiede. Dit was nog altyd my droom om te gaan werk in ‘n gebied waar enige hulp noodsaaklik is en waar ek voorwaar ‘n verskil kan maak in ander mense se lewens.
Wat staan vir jou die meeste uit by Hoërskool Robertson?
Ek kan met trots en sekerheid sê dat die Robbies ‘n hegte familieband het, wat geen ander skool kan “top” nie. Die omgee en ondersteuning onder die leerders en onderwysers staan voorwaar vir my uit bo die res. Robertson Hoërskool is ‘n skool waar almal aanvaar word vir wie hulle werklik is. Die onderwysers is altyd bereid om ekstra moeite in te sit om elke Robbie se volle potensiaal te ontwikkel, terwyl sy/haar mede-Robbies vierkantig agter hom/haar staan vir ondersteuning en aanmoediging.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ek glo dat sport, sowel as kultuur en akademiese deelname verpligtend moet wees in die laerskool / laer grade, aangesien leerders op hierdie manier blootgestel word aan ‘n verskeidenheid gebiede. Sodoende leer kinders belangrike vaardighede en lewenslesse, wat hulle vir ‘n lang tyd saam met hulle sal dra. Leerders vind op hierdie manier uit waarvan hulle hou en tree hulle hul hoërskoolloopbaan binne sonder enige, “wat as ek maar net” – gevoelens. In die hoërskool moet leerders egter die keuse hê om deel te neem aan dit waaroor hulle passievol is. Deelname, of dit nou is in sport, kultuur of akademie, moet egter steeds aangemoedig en ondersteun word.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Ek het beslis die sportdae die meeste geniet, aangesien ek tuis voel op die sportveld. Sportgeleenthede het dus ‘n atmosfeer geskep wat ek nooit sal kan beskryf nie. Die spanwerk, trots, passie en ondersteuning in RHS het by elke sportgeleentheid my grootste verwagtinge oortref. Daardie oomblikke sal ek vir die res van my lewe koester en die busritte sal altyd ‘n spesiale plek in my hart hê.
Wat is jou doelwitte vir Hoërskool Robertson tydens jou dienstermyn?
Soos voorheen genoem, beoog ek om saam met my mede-leerlingraadslede, Robertson Hoërskool ‘n omgewing te maak waar elke leerders vry voel om hul eie talente en passies uit te leef. Deur gebruik te maak van die unieke oogpunte van elke leerlingraadslid, wil ek sodoende verskeie benaderings tot situasies implementeer, om elke Robbie se idees en denke te akkomodeer. Robertson Hoërskool het talle leerders met verskuilde talente, dus wil ek sorg om vir elke leerder die geleenthede te gee om te doen wat vir hulle belangrik is – in ‘n omgewing waar hulle gemaklik is. Ek hoop om saam met my mede-Robbies, Hoërskool Robertson tot hoër hoogtes te neem, want “waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg”.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Filippense 4:13 : “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” My ouers het my op ‘n vroeë ouderdom geleer dat, om in staat te wees om jou doelwitte te verwesenlik, moet jy bereid wees om hard te werk. In plaas daarvan om my struikelblokke en teleurstellings met negatiwiteit te assosieër, beskou ek dit as nuwe lewenslesse en motivering vir die toekoms. Ek gebruik dus my struikelblokke as ‘n herinnering dat ek in staat is om enigiets te doen, as ek my kant bring en die taak met deursettingsvermoë aanpak.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van Robbies te word?
In ‘n plattelandse dorpie, soos Robertson, hoor mens gereeld dat leerders die dorp verlaat op soek na die “groener gras, anderkant die berg”. Ek het egter besef dat die gras werklik nie groener is aan die ander kant nie – dit is groen daar waar jy dit water gee. In Robertson Hoërskool, is elke kind belangrik en is elkeen soveel meer as net ‘n nommer. Hier raak niemand verlore in die skaduwees nie, want elke leerder kry die geleentheid om hul liggie helder te laat skyn. Ons skool bied ‘n groot verskeidenheid geleenthede vir bevordering én pret! Die beste besluit wat jy kan maak in jou skoolloopbaan, is om ‘n Robbie te word!
Wat is jou toekoms-ideale?
My toekoms-ideale is om die beste weergawe van myself te wees, deur aan te hou groei, te leer uit my foute en nooit op te hou droom nie. Ek wil myself altyd aanmoedig om nuwe uitdagings aan te pak en my kennis te verbreed oor die dinge wat werklik saak maak. Ek wil aktief betrokke bly in die gemeenskap, ‘n positiewe verskil in ander mense se lewe maak en sodoende ook ‘n stem wees vir diegene wat nie vir hulself kan opstaan nie. Die belangrikste van als, is dat ek my oë te alle tye gerig wil hou op ons Hemelse Vader vir leiding en streef ek dus daarna om met ‘n positiewe en dankbare ingesteldheid te leef.
Foto verskaf
Lees meer oor Hoërskool Robertson:
https://hoerskoolrobertson.co.za/
Become a Sponsor








