Die jaarlikse Mej. Huis Maré is Dinsdag 11 September aangebied en dié jaar was Hoërskool Nelspruit se kultuursentrum die agtergrond vir hierdie spesiale geleentheid vir die skool se koshuisdogters.
Die Pumas-rugbyspelers kon egter ook nie wegbly nie en was ook by dié spoggeleentheid te siene. Deelnemers moes die jaar hul ontwerpvernuf wys deur vyf koshuismaats in te span vir hulp en ‘n kostuum met die tema “Cat in the hat” uit materiaal wat verskaf is, aanmekaar te sit.
Dit alles binne ‘n uur. Die meisies moes ook die koshuishemp in hul eie styl verfraai en ‘n formele uitrusting gereed hê. Die meisies is tydens die derde lopie op die loopplank in hul formele drag deur die Puma-rugbyspelers vergesel.
Die seremoniemeesters vir die aand was Jessica Berry en Jaytee Boers.
Die Wenners: • Beste ontwerper: Nicola Cronjé; • Beste persoonlikheid: Sino Repinga; • Tweede prinses: Nicola Cronjé; • Eerste prinses: Shannon Pretorius; • Mej. Huis Maré: Suzanne Bothma
Meer oor Huis Maré: Vir Nellie-dogters is die Huis Maré-koshuis letterlik en figuurlik ‘n huis. “Vir duisende dogters wat in gr.8 by die koshuis intrek geneem het, het dit ‘n fondament en stabiliteit gegee sodat hulle na vyf jaar as dames kon uitstap. Oudinwoners verwys dikwels met verlange en dankbaarheid na hul tyd hier,” meen koshuisvader mnr. Kobus Hartman.
Met die koshuis se ingebruikneming in 1960 is dit deur 163 dogters bewoon – drie meer as waarvoor daar eintlik plek was. Tot vandag toe is die koshuis ‘n groot bate vir die skool en gee dit baie dogters die geleentheid om by akademiese, kultuur- en sportaktiwiteite aan te sluit. Vandag word hier bykans ‘n beduidende 240 dogters uit die skool se ongeveer 650 dogters gehuisves, wat geweldige momentum gee aan enige aktiwiteit by die skool.