Op Vrydag, 8 Februarie, het nege baie opgewonde Das-swemmers, reg vir die Midmar Myl te Kwazulu Natal, die vlug vanaf Kaapstad na Durban meegemaak.
Die Dassies het op Saterdag, 9 Februarie ‘n baie avontuurlustige dag met hope pret gehad en onder andere, uShaka Marine World, besoek.
Die leerders het die vertonings baie geniet en die waterpark beslis goed benut. Saterdagaand het almal vroeg in die bed gespring sodat hul reg kan wees vir die volgende dag.
Hul het vroeg Sondagoggend na die Midmardam vertrek om te registreer en reg te maak. Die vier meisies het eerste, in die ouderdomsgroep vrouens 14 tot 30 jaar, weggespring.
Die vyf seuns het direk na hierdie groep, in die ouderdomsgroep mans 14 tot 30 jaar, weggespring. Dit was ‘n aanpassing met die hoeveelheid mense, aangesien daar ongeveer 12 000 swemmers was. Hierdie is die grootste geleentheid van sy soort in die wêreld.
Die Dasse was egter goed voorbereid en het geweet wat op hulle wag.
Almal het hulle beste gegee, en het die vrugte van weke se harde oefening vir hierdie 1.6 kilometer swem, gepluk.
Die Dasse se uitslae is ‘n bewys dat harde werk beloon word. Die uitslae is as volg: Hoffie Prinsloo (29 minute), Mienke Doubell (34 minute), Bernard Small en Miquel D’Emiljo (35 minute), Tinka Fox (37 minute), Ben St Arnaud en Francois van Wyk (38 minute) en Mia Coetzee en Zarli Minni (41 minute).
Hoërskool Langenhoven is baie trots op hierdie nege Dassies!