Vrystaatkampioen in Hoogspring – Mieke Potgieter, van Hoër Meisieskool Oranje, het bewys dat deursettingsvermoë altyd vrugte afwerp. Mieke is ‘n matriekleerder en ‘n o.19 Vrystaatkampioen in Hoogspring. Ná jare se harde werk en volgehoue pogings kan sy vanjaar uiteindelik spog met die kroon as Vrystaatkampioen in hoogspring. Vir die eerste keer in haar hoërskoolloopbaan is sy ook gekies vir die Vrystaatspan. Dit is ’n mylpaal wat haar ongelooflik trots maak.
Mieke se pad was nie maklik nie. In 2022 het sy vyfde geëindig, in 2023 sesde, in 2024 tweede en in 2025 derde. Hierdie jaar het sy egter bo uitgekom. Dit is ’n ware bewys dat aanhouers wen.
Sy erken dat sy aanvanklik oorweeg het om atletiek te los en net op netbal te fokus, aangesien matriek ’n besige jaar is. Haar ma en afrigters het haar egter aangemoedig om nog een keer te probeer. “Ek wou hulle trots maak. As ek nie weer probeer het nie, sou ek nooit geweet het wat moontlik is nie,” vertel sy.
Die pad was vol teleurstellings. Verlede jaar het sy die kwalifiserende hoogte van 1.6 m vir die SA’s gespring. Dit was te vroeg in die seisoen en is nie in berekening geneem nie. Tog het sy aangehou, en vanjaar het sy haar droom bewaarheid.
Mieke se storie is ’n inspirasie vir elke jong atleet. Moenie opgee nie, want elke poging bring jou nader aan jou doel.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








