Krieketspelers na Nederland – Daar is rede tot groot trots in Hoërskool Witteberg se gange! Anru Erasmus en Karsten Rohrs, twee kranige krieketspelers het op Dinsdag, 15 Julie hul krieketdrome internasionale vlerk gegee. Hulle het na Nederland vertrek as trotse lede van die Lions-toerspan, deel van die Blue Runnings International Sport-program.
Die span is saamgestel uit van die mees belowende jong talent wat tydens die jaarlikse Kovsies Smash-toernooi hul stempel afgedruk het. Deur uitsonderlike spel en toewyding het die twee krieketspelers, Anru en Karsten hulle plek na Nederland in dié elite groep verseker. Dit is ‘n merkwaardige prestasie wat nie ongesiens verbygaan nie!
Gedurende die toer sal die krieketspelers aan drie 50-boulbeurtwedstryde én twee opwindende T20-wedstryde deelneem. Hulle sal te staan kom teen ’n verskeidenheid Nederlandse klubspanne. Buiten die sport, bied dié toer ook ’n kultuurreis en geleentheid om nuwe vriendskappe te vorm. Spelstrategieë sal gedeel word, om hul vaardighede op ’n internasionale verhoog te slyp.
“Om deel te wees van ’n span wat internasionaal toer is ’n ongelooflike voorreg,” het Anru gesê. “Ek sien uit na die wedstryde en die kans om ons land te verteenwoordig.”
Karsten het bygevoeg: “Dis ’n droom wat waar geword het! Ek wil elke oomblik benut, op én van die veld.”
Hoërskool Witteberg wens hierdie twee ambassadeurs van sport en karakter alle sukses toe. Miskien is dit net die begin van nóg groter dinge…

Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto’s voorsien
Become a Sponsor








