Noordheuwel Top 15 Atletiekbyeenkoms. Die Gideonsbende van Hoërskool Nelspruit se atletiekspan wat Woensdag 5 Februarie na Krugersdorp gereis het om aan die jaarlikse prestige Top 15- byeenkoms te gaan deelneem, het die room van 52 ander skole noord van die Vaalrivier, die stryd aangesê – en met ‘n stewige twaalfde posisie, huiswaarts gekeer.
Met ‘n gemiddelde punt – volgens ASA se 2020-tabel – van 832, eindig die Nellies net-net bo HTS Middelburg (826) en Transvalia (813). Die beste gemiddeldes is behaal deur Menlopark (942), Noordheuwel (899) en Zwartkop (ook 899).
In sulke uitgelese geselskap, moes die Laevelders natuurlik al die krane oopdraai. Dit het gevolglik ‘n hele paar pb’s en prestasies van nasionale gehalte, tot gevolg gehad.
Menzi Shiba (s.17) het ‘n skitter-tyd van 52.90 in die 400m hekkies opgestel. Hy was die enigste NHS-atleet wat bo 900 punte kon aanteken. Sy pragtige 901 punte, is verder ondersteun deur die 848 wat hy vir sy 14.54 in die 110m hekkies verdien het.
Die beste Nellie van die dag, wat die meisies betref, was Zané Nel. Sy verbeter haar pb in skyfwerp (m.17) na ‘n blink 40,17m en voeg daarmee 897 punte tot die spantotaal by. Zané is die tweede NHS-meisie wat deur die 40m-grens breek, en is nou saam met die befaamde Ashley Erasmus, die beste skyfwerp-atleet in die skool se geskiedenis. Welgedaan! Haar 13,35m in gewigstoot, was ook ‘n goeie 870 punte werd.
Bo 750 punte
Baie geluk aan die atlete wat bo 750 punte verdien het. Benewens genoemde twee, lyk die lys so:
- Mia du Preez (m.15): gewigstoot – 13,23m (892); ook skyfwerp – 35,53m (860)
- Zoë Cilliers (m.17): 100m – 12.19 (890); ook 200m -26.20 (821)
- Chenade Botma (m.15): 100m – 12.44 (880)
- Jacques Winterbach (s.15): gewigstoot – 14,63m (822); ook skyfwerp – 46,88m (801)
- Wiaan Grobler (s.15): skyfwerp – 48,41m (820)
- Azelle du Preez (m.19): 400m hekkies – 67.91 (813)
- Michelle Groenewald (m.19): 400m hekkies – 67.94 (812)
- Dirk-Arnold Joubert (s.17): gewigstoot – 14,69m (801)
- Mignon Basson (m.14): 100m – 13.30 (778); ook 200m – 28.01 (757)
- Jess Badenhorst (m.14): 300m hekkies – 51.05 (764)
Lees meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor








