Hoofdogter 2025. Soos die afgelope aantal jare, gesels Schools That Rock weer met die Hoofleiers van Hoërskole in Suid-Afrika. Vandag gesels ons met Lisa Botha, Hoofdogter 2025 van Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein.
“Waarna ek, as Hoofdogter 2025, hierdie jaar die meeste uitsien, is om verhoudings te bou. Ek wil ook my posisie as hoofleier gebruik om nog meer mense te leer ken. Ek wil ook die leerders opgewonde oor hoërskool maak!
My persoonlike doelwit is om elke dag, waar ek is, ‘n verskil te maak. Ek wil ook iets vir ander te beteken. Selfs al is dit net in die vorm van ‘n paar woorde van motivering of troos aan ‘n maat. My doelwit vir JF is dat die skool sal aanhou groei in die regte rigting. Ek wil ook hê dat almal sal sien hoe lekker dit is as jou bloed groen klop en om deel van die JF-familie te wees.
Eienskappe van Hoërskool Jim Fouché
Daar is eienskappe van Hoërskool Jim Fouché wat vir my die meeste uitstaan. Behalwe vir ons skool se amptelike waardes, waardeer ek dit dat die skool soveel vertroue in die leerders plaas. Dit leer ons verantwoordelikheid en is een van die redes waarom ek so lief vir JF is.
Al loop ons skool oor van leerders, dink ek JF kan nog beter bemark word. Behalwe daarvoor, sal ek absoluut niks hier wil verander nie.
Iemand oorreed om JF die skool van hul keuse te maak? Geen oorreding is nodig nie! As enigiemand in ons skool rondstap en net vir vyf minute kon sien wat die JF-kultuur is en dit kan ervaar, sou hulle beslis deel van JF wou wees. Dis so maklik om vir JF lief te raak. Dit neem slegs een keer se “Sweet Caroline” sing en dan is die JF-saadjie in jou hart geplant!
Sterkste leierseienskap
Ek beskou my sterkste leierseienskap my liefde vir mense. Dit is te danke aan al die mense rondom my wat dit so maklik maak! Mense maak my so gelukkig, en dit is vir my lekker om daardie liefde vir ander te wys, ongeag wie hulle is.
Ek kry samewerking (commitment) van my span deur ‘n voorbeeld te stel met harde werk en deur almal met respek te behandel. Dit is belangrik om na almal se opinies te luister en dit in ag te neem, maar wanneer nodig, voor te vat en ander met jou passie aan te steek.
Behalwe vir my ma, is Rassie Erasmus beslis die persoon na wie ek die meeste opsien. Hy het sy passie vir rugby op so ’n manier benut dat hy die hele land agter hom gekry het, asook ‘n eredoktorsgraad! Die manier hoe hy sy alles in dit sit waaroor hy passievol is, is iets waarna ek dink almal in die wêreld kan opkyk.
Dagdrome
Daar is nie baie tyd vir dagdroom in matriek nie, maar wanneer ek ‘n oomblik kry, sal ek ‘n paar oomblikke dagdroom oor vakansies saam met my familie, oor hoe ons almal net ontspan en die lewe geniet.
My gunsteling gereg? Ek is mal oor botterhoender, dit laat my aan goeie tye by die see dink😂
Indien ek ‘n kombuis-artikel moes wees, sou dit definitief ‘n yskasmagneet wees. Ek hou daarvan om aan goeie herinneringe vas te hou en elke dag met ’n bietjie kleur op te vrolik. ‘n Yskasmagneet is dalk nie die grootste nie, maar dit hou jou notas, foto’s en belangrike dinge in plek. Daar is ook altyd tyd om jou te laat glimlag as jy by die yskas verbyloop! En dit is iets waarvan ek baie hou-om mense te laat glimlag.
Wat my loopbaan betref – ek wil graag B.com Regte studeer en daarna in die B.Rek rigting voortgaan om uiteindelik ‘n CA te word. Ek beplan om by die Universiteit van die Vrystaat te studeer.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor








