1Ste X1 Krieket Kapteins. Schools That Rock gesels verder in hul reeks oor skole se 1ste X1 Krieket Kapteins. Verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span Krieket-kapteins neem deel aan hierdie gewilde reeks. Ons sestiende bal word vandag geboul na Louw Marx, kaptein van Hoërskool Durbanville in Kaapstad, se 1ste krieket span.
“Ek het op die ouderdom van ses begin met krieket. Krieket was nog altyd een van my gunsteling sportsoorte gewees. Dit was ook die eerste sportsoort waaraan ek deelgeneem het. Ek het rugby ook baie geniet, maar as gevolg van beserings kon ek nie daarmee aangaan op hoërskool nie. Krieket het dus my hoofsport geword en dit bly nog steeds my gunsteling sportsoort. Ek is aan die einde van my graad 11 jaar as kaptein verkies.
Tydens my eerste krieket wedstryd was ek regtig op my senuwees, maar tog opgewonde vir wat voorgelê het.
Grootste taak
Ek beskou die grootste taak van die krieket kaptein op die veld om by te bly met die veldplasings. Verder moet hy ook die manne in die wedstryd hou en rustig hou, sowel as gemotiveerd indien die wedstryd lank en moeilik raak. Ek kies ook die regte tipe bouler vir die blad en besluit of ek voortgaan met dieselfde bouler of ek verander die aanslag. Tydens oefening is dit maar net om die manne betyds opgewarm te kry en reg te kry vir oefening.
Ons span oefen drie keer per week. Ek self oefen by die skool asook privaat.
‘n Goeie krieketspeler moet beskik oor goeie selfdisipline, fokus en ‘n passie vir die spel. Omdat krieket so ‘n tydrowende sport is kan dit soms uitgerek raak. Dan moet die spelers gefokus kan bly. Die passie en geloof in jouself en die span se vermoë is van kardinale belang.
Wat my elke keer inspireer wanneer ek op die veld stap, is die span self. Ek weet ook dat ek, as krieket kaptein, ‘n verantwoordelikheid het en dat my span op my staatmaak om die regte besluite te neem.
My krieketheld is Ben Stokes.
As ek ‘n keuse moet maak tussen boul en kolf, kies ek om te kolf.
Lekkerste wedstryd
My lekkerste krieket wedstryd was by verre my laaste een teen Hoërskool Brackenfell. In ‘n sekere sin omdat ek geweet het dis waarskynlik my laaste wedstryd vir Hoërskool Durbanville. Op daardie dag het ek die lekkerste gekolf wat ek al ooit in ‘n wedstryd gekolf het. Dit was ook my tweede-grootste vernootskap wat ek en ‘n spanmaat ooit bereik het.
My beste hou was tydens my kolfbeurt in ‘n wedstryd teen Hoërskool Stellenberg. Ek het ‘n reguit hou oor die bouler se kop geslaan vir ‘n een-bons vier! My beste boulbeurt was teen Hoërskool Bellville in 2021. In dié wedstryd het ek vier paaltjies met vier agtereenvolgende balle geneem. Verder het ek ook ‘n totaal van 5 paaltjies daardie dag agter my naam kon skryf!
Druk op die veld, as krieket kaptein, hanteer ek deur so goed as moontlik te fokus en my span konstant verbaal aan te moedig om aan te hou speel. Ek herinner myself daaraan dat almal foute maak, maar dat ek besluite maak volgens my beste wete en kennis op daardie tydstip. Ek hou daarvan om gereeld by die gym uit te kom en vir myself nuwe doelwitte te stel.
Raad aan beginners
My raad aan beginners is om maar net te begin en dan hard te werk. Krieket kan ‘n lang en uitgerekte saak raak en dis moeilik om dan nog aan te hou. Druk maar deur. Geleenthede kom uiteindelik oor jou pad en dan moet jy dit aangryp. Probeer om soveel as moontlik te oefen. Wat my baie gehelp het was om ‘n mentor te kry. Dit maak nie saak of dit ‘n vriend of ‘n afrigter is nie. Hulle moet net die ‘game’ ken en krieket gespeel het.
Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, kry ek altyd hulp en raad by my ouers.
Die “nar” in ons huidige span is Wian Koen. Die persoon wat my die meeste tydens wedstryde verras, is Piere Du Toit. Hy het net altyd ‘n manier om ‘n bal uit te hou. Sy temperament as hy gaan kolf, verras my ook altyd.
Die bouler vir wie ek die meeste gevrees het, is Derik Bredell. Hy het baie goeie lyne geboul en het lekker ‘pace’ gehad.
Ons “pre-match” ritueel is om soms musiek te luister in kleedkamer na opwarming of oppad na ‘n game toe, maar ons het nooit ‘n set “pre-match” ritueel gehad nie.
Ja, ek kyk gereeld krieket op die televisie. Aangesien die seisoen nou verby is, mag ek dalk nie nou meer skoolkrieket speel nie, maar ek leef nog steeds die ‘game’.
In my vrye tyd gym ek graag en speel soms nog parkie-krieket. As ons by die see uitkom, gryp ek my surfboard.
As ek myself in een woord moet beskryf – Bereidwillig.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za