Die topleerder van Worcester Gimnasium, Hans Klüsmann spog met ‘n gemiddelde van 94.57% in die Nasionale Matriek Eksamen van 2018.
Hans het na die hermerk van sy vraestelle hierdie uitstekende prestasie behaal.
Hy behaal die volgende gemiddelde per vak:
Afrikaans Huistaal 88%
Engels 1ste Add Taal 96% – 8ste in Wes-Kaap
Wiskunde 95%
Lewensoriëntering 96%
Inligtingstegnologie 96% – 6de in Wes-Kaap
Lewenswetenskappe 93% – 7de in Wes-Kaap
Fisiese Wetenskappe 98% – 6de in Wes-Kaap
Wat hierdie prestasie nog meer besonders maak, is dat Hans verlede jaar onderhoofseun van Worcester Gimnasium was, asook kaptein van die 1ste seunshokkie en krieketspanne. Hy is ook verkies tot die Boland IPT B o.19 seunshokkiespan en Boland o.17 krieketspan. Daarbenewens was hierdie veelsydige jongman lid van die skool se atletiek- en swemspanne
asook lid van die skoolkoor.
Hierdie kranige leerder studeer tans aan die Universiteit van Stellenbosch BSc Wiskundige Wetenskappe en is ‘n inwoner van Dagbreekkoshuis waar hy ook alreeds weer by baie ander aktiwiteite betrokke is.
Hans vorm egter deel van Worcester Gim se baie sterk akademiese groep leerders van wie ons ook uitstekende nasionale prestasies verwag. Tans is daar kwartaalliks op die skool se merietelys in elke graad tussen 5 en 10 presteerders bo 90% en meer as 20 presteerders bo 80%. Akademie is een van die kernstene waarop hierdie skool van uitnemendheid se fondament gebou is en een van die redes waarom die Gimmies die afgelope dekades met die meeste A-gemiddeldes in Worcester spog.
Benewens die gewone akademiese prestasies vaar die Bosvarke ook uitstekend in nasionale olimpiades soos Wiskunde-, Rekenaar-, Wetenskap-, Afrikaans, Engels en Algemene Kennis-olimpiades.
Die ander twee bene waarop die balans van die skool rus, is sy veelsydige en uitstaande kultuur – en –sportprestasies.
Balans word gehandhaaf tussen ongelooflik baie pretgeleenthede, omgee vir ander en fokus op elke kind se eie potensiaal.
Hier is die plek waar ons waardes ‘n veilige omgewing skep vir indiwidualiteit.
Geen wonder die Bosvarke is sulke gelukkige kinders nie!