Vrystaat Interhoër Atletiekkampioenskap. Bethlehem Voortrekker Hoërskool het die afgelope naweek, 8 en 9 Maart, tydens die Vrystaat Interhoër Atletiekkampioenskap in Bloemfontein weereens geskitter. BVHS het goud as algehele wenner vir die sewende keer ontvang!
Talent. Toewyding. Topafrigters – Dit is die 107 BVHS atlete se bestanddele vir hul wenresep. BVHS wen die byeenkoms oortuigend uit 190 Vrystaatse skole. ’n Ryke medalje-oes was die beloning van puik tye en afstande. Voortrekker sluit die dag af met 79 medaljes waarvan 42 goud, 19 silwer en 18 brons.
Die dag is ook gekenmerk deur die sewe rekords wat verbeter is deur Voortrekker-atlete:
- Nelisa-May Doman verbeter die o/14 5000m Staprekord: 29:02.28
- Cara Rautenbach verbeter die o/14 Hoogspringrekord: 1.63m
- Anke Gunther verbeter die o/16 dogters 2000m Hindernisrekord: 07:19.05
- Mieke-Louise Britz verbeter die dogters o/17 800m-rekord: 02:10.39
- Carise van Rooyen verbeter die o/17 2000m dogters Hindernisrekord: 07:03.39 asook die dogters o/17 800m-rekord: 02:08.50
- Liam-Lloyd Doman verbeter die seuns o/17 10000m Staprekord: 53:15.73
BVHS se aflosspanne het ook vyf goue medaljes verower. Hulle het die skare behoorlik op hul voete gehad.
Mnr Andi Wolmarans, atletiekhoof en afrigter, bedank ook elke afrigter wat individueel by BVHS se atlete betrokke is. Sonder hul kundigheid sou ons atlete nie met hierdie prestasies kon wegstap nie. Die atletiekseisoen het vele hoogtepunte opgelewer vir die atlete. Hulle het die Graanveld- en die Oos-Vrystaat byeenkomste ook oorheers. Die wil om te wen en met trots uit die stryd te tree, was in elke byeenkoms duidelik sigbaar. Om die top atletiekskool in die Vrystaat te wees, is vir Bethlehem Voortrekker Hoërskool ‘n groot eer.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf