VRL Tesourier 2024. In ons reeks oor Hoofleiers, oftewel VRL Tesourier 2024 van Hoërskool Durbanville in Kaapstad, gesels Schools That Rock met Lienke Vermeulen. Sy beklee die posisie van VRL Tesourier vir die skooljaar van 2024.
Lienke, vertel ons van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskap ervaring?
- Ek is Lienke Vermeulen en ek dien as tesourier op die VRL van Hoërskool Durbanville. Ek is lief vir mense en lief vir die Here! Ek floreer op ‘n volgepakte skedule en wil hierdie jaar ook voluit en oral betrokke wees. Ek wil ‘n verskil maak deur omgee en positiwiteit. Ek het wel besef dat die meeste impak nie gebeur wanneer ek voor die skool staan en met die massas praat nie, maar wel wanneer ek individueel met mense werk. Dis vir my die meeste spesiaal.
Wat is jou mees belangrike waardes as leier?
- Die belangrikste waardes vir my as ‘n leier is verseker om ‘n baie goeie voorbeeld te stel. Ek werk verskriklik hard en probeer om altyd positief te bly. Sodoende kan ek my skool mobiliseer om dieselfde te doen. Ek kan nie van my mede-Durbies verwag om hard te werk as ek as hul hoofleier dit nie self eerste doen nie. Nog ‘n baie belangrike waarde is empatie en verhoudings bou. As ‘n leier moet jy jouself in ander mense se skoene kan sit, anders gaan jy nooit werklik jou medemens kan lei of verstaan nie.
Vertel ons meer van jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Hoërskool Durbanville?
- Ek wil baie graag die bewustheid en liefdadigheid in Hoërskool Durbanville en die gemeenskap versterk. Daar is soveel leerders en mense in die omgewing wat swaarkry en niemand help of weet dit nie. Ek wil hierdie liefdadigheid dan ook terug skakel na die Here toe en sy voorbeeld uitleef. Dit is die uiteinde van alle projekte wat ek aanpak – om Sy naam te verheerlik.
Lienke, wat is jou sterkste leierskapvaardigheid?
- Ek het nog altyd gedink dat my heel sterkste eienskap my empatie en omgee vir mense is. Ek het egter onlangs besef dat ek ook nie bang is om my stem dik te maak vir dit wat reg is nie.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Ek kry die beste uit ‘n persoon as ek “inzoom” op iemand in ‘n klein groepie of individueel. Ek nooi gereeld my komitees vir koffie sodat ons kan praat oor planne, projekte en algehele leierskapskwessies. Wanneer ek luister na die belange van my mede-leiers en werk volgens hulle passie, kry ek verseker die beste uit elke SR-lid.
As jy enige honde-ras kon wees, watter ras sou jy wees en hoekom?
- Definitief ‘n Golden Retriever. Ek het ‘n Golden en sy naam is Buddie. Baie mense het al vir my gesê hy is die honde-weergawe van my. Buddie is vreeslik lief vir liefies en drukkies en soentjies. Hy is lojaal en vriendelik en sal jou vinnig op jou plek sit as jy hom ontstel. Ek glo ek is dieselfde.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- Verandering is eintlik die enigste konstante. So, met ‘n doelgerigte, positiewe gesindheid kan mens enige iets bereik. In Hoërskool Durbanville is daar altyd verandering en nuwe idees, so ons is eintlik gewoond daaraan en geniet die uitdaging!
Wat staan die meeste vir jou uit by Hoërskool Durbanville?
- Ons skool se hart is iets ongelooflik besonders. Ek sien elke dag hoe baie ons almal omgee vir mekaar. In my skool ondersteun almal mekaar se verskillende talente en passies. Dis régtig ‘n skool waar elkeen iemand is.
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
- Ek weet dis baie cliché maar die kombinasie van my ma en pa. Ek wil die sterk eienskappe van hulle albei toepas.
- My ma het ‘n verskriklike sterk persoonlikheid, sy dink logies en prakties oor dinge en sal dikwels kry wat sy wil hê. Terselfdertyd is sy altyd bereid om alles te los om die mense om haar te help.
- My pa is ‘n ongelooflike sterk leier. By hom leer ek hoe om my emosies weg van my “werk” af te hou en om kalm te bly wanneer dinge oorweldigend raak. My pa is ook vreeslik lief vir die Here en hy maak dit baie duidelik.
Lienke, wat was die hoogtepunt van jou skoolloopbaan tot dusver? Hoekom?
- Ek was al op baie skooltoere en het al aan baie buitemuurse aktiwiteite deelgeneem. So dit is baie moeilik vir my om een hoogtepunt te kies. Die mees onlangse hoogtepunt is toe ons die Flashes en atletiek by KO-ED gewen het. Ons dirigente het vir weke geoefen tot baie laat in die aand. Ons het ons hele menswees en gees vir die skool gegee! Die oorwinning was ongelooflik!
Waaroor dagdroom jy?
- Ek dagdroom eintlik maar net oor twee dinge. Wanneer ek weer kan gaan slaap en wanneer ek weer kan gaan “show” hou.
Hoe sal jy graad 7s oorreed om jou skool te oorweeg vanaf graad 8?
- Ek sal hulle heel eerstens aanraai om my Instagram te volg… daarop het ek ‘Lienkieloks Vlogs’ waar ek my matriekjaar afneem en dokumenteer. Hulle sal dan bitterlik vinnig sien watter prettigheid gebeur in die skool en hopenlik sal die FOMO inskop!
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
- Ek wil die graag BA Drama swot by Stellenbosch Universiteit. Hopenlik kan ek dan sommer koshuis toe ook gaan en ‘n boerseun kry om te trou!
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
- My vriende kan altyd staatmaak op my vir hulp, simpatie en drukkies. Ek was nog altyd in almal se oë ń “softy” maar na ontgroening sê my vriende ek is baie kwaai en intimiderend, maar dit was mos net om die graad 8’s bietjie aarde toe te laat skrik! My beste vriendin, Bella sê ek is elke dag ‘n verrassing. Soms is ek baie blond en soms is ek baie slim! “Lienke is soos ‘n bonneltjie geluk en jy sal haar min sonder ‘n glimlag sien.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf