VRL Sekretaresse 2024. In ons reeks oor Hoofleiers, oftewel VRL Sekretaresse 2024 van Hoërskool Durbanville in Kaapstad, gesels Schools That Rock met Klara Brand. Sy beklee die posisie van VRL Sekretaresse vir die skooljaar van 2024.
Klara, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskap ervaring?
- Ek is iemand wat alles uit liefde doen. Ek is 100% ‘n mensemens wat my energie-tenk volmaak as ek tyd met familie, vriende en die mense rondom my spandeer. As ‘n leier het ek defintief verskriklik ontwikkel. Vir ‘n lang tyd, toe ek jonger was, het ek gedink die leier moet altyd weet wat reg is. Ook dat hulle altyd presies weet wat om te doen en alles self uitvind. Hoe ouer ek word het ek agtergekom dat ‘n leier nie altyd alles hoef te weet van die begin af nie. Solank hulle net hulle mense saamdra op die pad en luister na wat in die beste belang van hulle mense is, is hulle ‘n goeie leier. As leier probeer ek altyd om almal rondom my se lewe makliker en gelukkiger te maak. Ek sou sê dat ek myself goed ken. Ek leer egter elke dag iets nuuts van myself en ek ontwikkel konstant my leierskapsvaardighede. Dis hoekom ek so bevoorreg is om in die posisie te wees waarin ek nou is. Ek leer konstant hoe om dinge te hanteer en hoe om op my voete te kan dink.
Wat is jou mees belangrike waardes as leier?
- As leier en VRL Sekretaresse 2024 sowel as as mens, is omgee vir my onsettend belangrik. Ek bied altyd hulp oral waar ek kan. Ek sien myself as ‘n lojale leier waarop daar staatgemaak kan word en wie betroubaar is. Ek is verantwoordelik en eerlik en alles wat ek doen is op Christelike waardes gegrond. As leier is ek ook nie skaam om voor mense te praat nie. Ek floreer rondom mense en kry defintief my energie van ander.
Vertel ons wat is jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Hoërskool Durbanville?
- Ek wil graag hê, en die idee versterk, dat elke leerder moet kan voel dat hulle raakgesien word. Ek dink ons is reeds sterk oppad om dit te bereik. In die lewe sien ons mekaar raak maar ons sien dalk nie werklik mekaar elke dag vir wie ons is nie. Daarom probeer ek om soveel as moontlik leerders in my skool te leer ken op ‘n ander vlak as net om hulle gesigte in die gange te sien. Ek wens vir my skool dat sy volle potensiaal bereik kan word, en ons is sterk oppad daarheen.
Wat is jou sterkste leiers-eienskap?
- Ek sou sê my sterkste leiers-eienskap is empatie. Ek het die vermoë om te kan sien as iemand ‘n bietjie ondersteuning benodig, of om te kan voel wat iemand anders voel. Daarom sal ek lei deur almal se gevoelens in ag te neem. Ek sal ook besluite maak wat in die beste belang van my medemens is. Verder sal ek altyd probeer om diegene rondom my eerste te plaas en daardeur seker maak dat die meeste gelukkig is.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Om te lei deur voorbeeld. ‘n Mens kom nie eintlik agter hoe maklik mense jou maniertjies en gedrag optel nie. As jy iets gedoen wil hê, moet jy dit self eers doen. Anders gaan jou span nie na jou luister as jy net vir hulle sê wat hulle moet doen nie. Om te lei deur voorbeeld wys vir jou span dat jy ook bereid is om saam met hulle hard te werk. Jy moet ook bereid wees om vuil te word, jou bloed, sweet en trane in te sit en nie net van hulle verwag om die instruksies wat jy vir hulle gee uit te voer nie. Ek verseker ook dat ek ‘n goeie en vaste verhouding het met elkeen in my span het. Ek ken elkeen ook op ‘n persoonlike vlak. Verder beskik ek oor die vermoë om besluite te kan maak wat in die beste belang van elkeen is. Dit help nie jy wil saamwerk, maar jy ken nie mekaar se harte nie.
Klara, as jy enige honde-ras kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
- Ek sou sê dat ek ‘n “Golden Retriever” of ‘n “Labrador” is. Hierdie twee rasse is baie na aan mekaar. Ek sien myself defintief as ‘n hond wat dit geniet om rondom mense te wees en heeltyd betrokke te wees. ‘n Vriendelike hond, wat nooit regtig aggressief kan raak nie. ‘n Hond wat saggeaard is, maar vir homself kan opstaan en wie se energie opmerkbaar is.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- Verandering is moeilik, of dit nou goed of sleg is. Maar verandering is altyd nodig. Ek sal seker maak my span bly ‘n eenheid tydens verandering. Die buite- faktore van verandering moet nie ‘n impak van slegte verandering binne my span hê nie. Ek sal hulle probeer wys dat mens verandering moet omhels. Ek sal lei deur voorbeeld deur eers self dit te omhels en hulle gerus te stel dat alles okay sal wees.
Wat staan die meeste vir jou uit by Hoërskool Durbanville?
- Die familie-aspek. Hoërskool Durbanville is ‘n familie. Ons spandeer dikwels meer tyd hier by die skool as by ons eie huise. Ons skoolhoof, Meneer Venter, sê altyd, ‘n familie baklei, want ons almal verskil. Maar ‘n familie gee om en het mekaar lief. ‘n Familie ondersteun mekaar en daag altyd op. Vanaf die dag wat ek by my skool ingestap het, het ek daardie gevoel ervaar wat moeilik is om te beskryf. ‘n Gevoel waar jou hart swel en jy weet nie presies hoe om jou vinger daarop te sit nie. Eenheid, passie, trots. Die gevoel van ‘n familie is onsettend opmerkbaar vir my by Hoërskool Durbanville. Almal kyk uit vir almal, want ons is een. Die gees is ook altyd daar. Ons kan saam sing, saam dans, saam lag en saam huil en saam te kere gaan as ons wen, maar tel mekaar op as ons verloor. Die energie van die kinders is moeilik om te beskryf. Dis iets baie skaars, wat nie op baie plekke ervaar word nie.
Wie is die persoon na wie jy opkyk? Hoekom?
Defintief my ouers. My ouers is die mense wat vir my die grootste voorbeeld stel oor hoe om die lewe aan te pak. Ek kan so baie sê oor hulle albei. Albei van hulle sit altyd ander voor hulleself en is sonder twyfel die mees toeganklike mense wat ek ken. Hulle het my gemaak wie ek vandag is. Ek sou nie kon wees waar ek is vandag sonder hulle nie. Daarom kyk ek op na hulle, want as ek die helfte van die werk regkry wat hulle het, sal ek gelukkig wees. Ek kyk ook vreeslik op na my vorige Biologie onderwyser, Meneer Jeremy Dietsiso. Hy is ongelukkig nie meer ‘n onderwyser by ons skool nie, maar die impak wat hy op my en vele ander leerders gemaak het sal ek nooit vergeet nie. Hy het ongelooflike dryfkrag en passie, en sal nooit sy energie laat daal nie, ongeag die dag se omstandighede. Ek kyk na hierdie mense en nog vele meer in my lewe op en neem hierdie vaardighede wat ek by hulle leer saam met my.
Wat was die hoogtepunt van jou skoollopbaan tot dusver? Hoekom?
- Daar is nie slegs een hoogtepunt nie, maar elke keer wat ons as skool iets as ‘n eenheid bereik. Soos ‘n interskole sportwedstryd, die baadjie-flashes, die geesbekers. In hierdie oomblikke swel my hart van trots en ek sukkel om dit te beskryf, maar dit is vir my dan ‘n ongelooflike voorreg om ‘n Durbie te mag wees. Hierdie gevoel is sonder twyfel die hoogtepunte wat ek onthou van my skoolloopbaan. Ek mag dalk nie altyd onthou wat presies op hierdie geleenthede gebeur het nie, maar ek sal nooit vergeet hoe trots ek op my skool was in hierdie oomblikke nie.
Klara, waaroor dagdroom jy?
- Ek dagdroom gereeld oor reis. Reis na ander dele van die wêreld, die leer van nuwe kulture en die ervaring van ‘n ander leefwyse. As ek eendag die Lotto wen sal ek beslis gaan reis en al my familie en vriende saamvat. Ek wil so graag die lewe ten volle benut en elke geleentheid verken en sien.
Hoe sal jy Graad 7 leerders oorreed om jou skool te oorweeg vanaf Graad 8?
- Een van my gunsteling geleenthede by Hoërskool Durbanville is ons Ope-aande vir die Graad 7’s om te kom inloer hoe ‘n Durbie-dag lyk. Dit is soveel meer as net ‘n advertensie vir die leerders. Dis ‘n geleentheid waar ons as skool herinner word aan hoe ongelooflik dankbaar ons kan wees om deel te kan wees van hierdie familie. ‘n Tweede huis, ‘n bron van trots en ‘n plek van groei. In my lewe sal ek nooit ooit wens dat ek op ‘n ander plek groot geword het nie, en so sal ek ‘n Graad 7 leerder nie oorreed nie, maar met ervaring sê dat beter, kry mens nie sommer nie.
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
- Hierdie is ‘n vraag waarmee ek konstant worstel, omdat ek te veel wil doen en dan nie kan besluit op watter rigting nie. Op die oomblik stel ek baie belang in ‘n Sielkundige rigting, dalk Neurosielkunde by Stellenbosch, of dalk in ‘n meer mediese rigting soos tandheelkunde by Tygerberg. Ek sal nie graag te ver van die huis af wil trek nie. My familie en vriende is ongelooflik belangrik in my lewe, so as ek hulle en my loopbaankeuse gelyk kan bevredig sal dit ‘n groot bonus wees.
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
- Ek dink my vriende sal my beskryf as ‘n ekstrovert. Iemand wat saggeaard en ‘n mensemens is, met ‘n omgeehart. Iemand wat lojaal is, ‘n staatmaker en iemand wat jy kan vertrou. ‘n Goeie luisteraar, iemand wat altyd toeganklik is, glad nie veroordelend is nie, goeie advies gee en altyd vol energie is. Iemand wat baie snaaks is, maar altyd volwasse is wanneer die oomblik dit vereis. ‘n Baie passievolle mens met baie gees. ‘n Vreeslike liefdevolle mens wat nooit selfgesentreerd is nie.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf