VRL Ondervoorsitter 2024. In ons reeks oor Hoofleiers, oftewel VRL Ondervoorsitter 2024 van Hoërskool Durbanville in Kaapstad, gesels Schools That Rock met Corneli Koen. Sy beklee die posisie van VRL Voorsitter vir die skooljaar van 2024.
Corneli, vertel ons van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskap ervaring?
- Ek het groot geword in Durbanville en is al my hele lewe lank ‘n Durbie. Ek is die jongste van twee kinders en ek speel graag netbal. Bentley is my hond. Ek is ‘n sushi liefhebber en sien myself as ‘n regte mense-mens. Ek kry my energie van mense af en is mal daaroor om nuwe mense te ontmoet. Nie baie tieners erken dit nie, maar ek hou van skool. Ek hou daarvan om elke dag my vriende rondom my te hê. Ook om aan al die aktiwiteite deel te neem. My leierskap het vroeër begin, maar het defnitief vlam gevat tydens my laaste drie jaar. Ek is bevoorreg om in ‘n skool te kan wees waar daar vele geleenthede is om jou leierskap te ontwikkel. Ek dink dat alles waaraan ek deelneem by die skool het daartoe bygedra.
- Ek was nooit ‘n voorstaander van mondeling en redenaars nie. Ek was redelik skaam om voor mense te praat op laerskool. In graad 8 het my vriendinne besluit hulle wil debat probeer, en het my saamgetrek na die eerste oefening. Ek doen vandag, amper vier jaar later, steeds debat en geniet dit vreeslik. Ek het ‘n passie ontwikkel vir mense en die organisasie van dinge. My ervaring met leierskap was nog altyd positief, alhoewel daar al natuurlik uitdagings hier en daar was. Ek het so baie geleer – van ander, van my skool, van ons jeug en van myself. Terselfdertyd het ek vaardighede ontwikkel wat ek nooit sou kon doen as ek nie was waar ek nou is nie. Ek geniet my ‘werk’ as VRL en sal die ervaring vir niks verruil nie.
Wat is jou mees belangrike waardes as leier?
- Ek sal sê om te lei met voorbeeld en om goeie kommunikasievaardighede te hê. Ook positief, regverdig en nederig te wees is baie belangrik. Verder ook om ‘n spanspeler te wees. Ek is ‘n aanhanger van die woorde “Lead by example.” Dit is en was nog altyd ‘n belangrike deel van my leierskap, want ek vra altyd myself af as ek nie eers kans sien om dit te doen nie, hoe kan ek van ander mense verwag om dit te doen? Ek het al vroeg geleer dat kommunikasie die goue sleutel tot sukses is. As ‘n span is ons ‘n eenheid, maar ook as individue so divers. Almal dink en doen anders en daarom is dit van kardinale belang dat almal op dieselfde bladsy moet wees.
- Volgende sal ek sê positiwiteit. Die belangrikheid van aanmoediging, ondersteuning en dryfkrag. Ons moet konstant die voorbeeld stel en ons alles insit, sodat dinge goed kan gaan. Ek sal ook sê regverdigheid is ‘n belangrike waarde. Om almal dieselfde te hanteer, maak nie saak wie of wat hulle is nie. Daarmee saam moet jy ook nederig bly, en altyd onthou hoe jy gekom het waar jy is en wie jou gehelp het om daar te kom. “There is no ‘I’ in team” en daarom is leierskap vir ‘n span. Jy moenie probeer om dinge alleen aan te pak nie, maar eerder as ‘n span. Daar is baie meer insette en hande wat kan help om dinge klaar te kry. “Alone you go fast, but together you go far.”
Vertel ons meer van jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Hoërskool Durbanville?
- Vir my, as Corneli, wil ek graag elke oomblik geniet, meer en meer leer en myself daar buite sit om herinneringe te maak en dinge te doen wat ek nêrens anders in my lewe sal kan doen nie. Ek is groot op die idee van ‘familie’ in Hoërskool Durbanville. Ek is ‘n familie-mens en ek dink dit is wat my dryf om seker te maak my skool voel soos die Engelsman sal sê “One big happy family.” Hoërskool Durbanville het oor die afgelope paar jaar verskriklik gegroei en staan nou op meer as die 1500 leerders. Dit is mense wat jy daagliks sien en vyf jaar van jou lewe saam spandeer, maar nie noodwendig eers ken of in belangstel nie. Dis baie maklik om te sê “Ja, ek ken almal en almal is gelukkig” maar is dit regtig so? Ons skool se slagspreuk is “Die skool waar elkeen iemand is” – en ja, ek weet dit klink cliché, maar dit is regtig waar. Dit pas ook perfek by die konsep van familie waarna ek streef. Daar is werklik iets vir elke persoon, of dit nou akademie, sport, kultuur, leefstyl, leierskap of wat ookal is. Dit is dan ook nog ‘n doelwit van my, om die skool se betrokkenheid en deelname te verbeter en aan te moedig dat nog meer mense deelneem aan dinge. Dis nie ‘n maklike of eenvoudige taak om tieners te kry om meer te doen en uit hulle boksie te klim nie, maar dit is wel iets wat ek wil aanpak.
Corneli, wat is jou sterkste leierskapvaardigheid?
- As VRL Ondervoorsitter 2024, dink ek my spanwerk en motivering. Ek is lief daarvoor om dinge as ‘n span te doen en sal baie eerder dit doen as iets op my eie. Ek sal sê ek is positief ingestel en probeer altyd almal rondom my aanmoedig en positief hou.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Ek sal sê deur konstante motivering en om saam hulle deur dinge te gaan. As ‘n moeilike taak gedoen moet word, dit nie net vir hulle te gee en op iets anders te fokus nie, maar liewers dit saam te doen en dit lekker te maak. Ek dink as ‘n leier is dit baie belangrik om jouself deel te maak van die span en nie net die span te lei nie. Ek hou daarvan om dinge saam hulle aan te pak, en so ons verhoudinge en spangees te verbeter en te laat groei.
As jy enige honde-ras kon wees, watter ras sou jy wees en hoekom?
- Ek sou defnitief ‘n Beagle wees. Nie net omdat ons Beagles het nie, maar ook omdat ek met so baie van hule eienskappe ooreenstem. Beagles is baie aktiewe, avontuurlustige honde wat energiek en besig is. Ek sien myself ook as ‘n busy body wat altyd orals besig en betrokke is. Alhoewel hulle só aktief is, rus hulle ook ordentlik en kan ure aaneen slaap. Ek lief ‘n middag-slapie en is defnitief nie die beste oggendmens nie, nes ‘n Beagle.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- Ek dink verandering is altyd goed, en dat uitdagings belangrik is vir die groei van spanverhoudings. Ek sal seker maak my span weet hoekom daar verandering is, wat ons rol in die verandering is en hoe ons dit aan die res van die skool gaan oordra. Verandering kan moeilik wees, maar solank almal op dieselfde bladsy is en weet wat van hulle verwag word kan my span enigiets doen en ‘n sukses daarvan maak.
Wat staan die meeste vir jou uit by Hoërskool Durbanville?
- 110% Van al die geleenthede wat daar is en dat daar werklik ‘n plekkie vir almal in die son is by Hoërskool Durbanville. Of jy nou swem, skaak speel, toneel doen, in die drumline is, hokkie speel, by die funksiebestuur betrokke is of debat praat – daar is ‘n aktiwteit vir jóú. Ons het baie diverse buitemuurse aktiwiteite en daarom is dit so lekker om almal op verskillende plekke betrokke te sien. Jy hoef nie ‘n akademiese reus, sportheld of kultuurdier te wees om in te pas nie, daar is ‘n plekkie net vir jou. Jy hoef ook nie aan alles deel te neem nie, maar kan ook gaan ondersteun. Dit is nog een van my gunsteling dinge van Hoërskool Durbanville. Alhoewel ek nie orals altyd kan wees en deelneem nie, kan ek baie ondersteun en gaan kyk hoe ander mense hulle talente en passies uitleef vir ons skool. Natuurlik staan ons mense en gees ook vir my onmiddellik uit. Ek het in graad 8 by die hoofhekke van die skool ingeloop, en was rerig skrikerig en onseker. Ons het ‘n paar dae se ontgroening agter die rug gehad en het een middag die skoollied gesing in die oudetorium. Net daar het ek tuis en welkom gevoel. Ek het geweet hierdie is die plek vir my, en kan nou, vier jaar later, steeds so sê. Hoërskool Durbanville het die geaardheid en geneigtheid om verskriklik vining in jou hart in te klim en sal altyd ‘n diep plekkie in my hart hê.
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
- Dit is ‘n moeilike een, want daar is so baie mense na wie ek opkyk vir verskeie redes. My broer is een van my grootste rolmodelle en ek sal altyd opkyk na hom. Ons verskil vier jaar in ouderdom, en hy was matriek toe ek in graad 8 was. Toe ons jonk was het ek nooit van hom gehou nie. Hy was weird en ons belanstellings het nie regtig ooreengestem nie. Soos ek ouer geword het, het hy wel een van my beste pelle geword. Hy studeer tans medies in Bloemfontein, en het onsaglik hard gewerk in Graad 11 en matriek vir keuring. Dit was ‘n moeilike tyd vir hom toe hy destyds keuring gekry het, aangesien Bloemfontein so ver van die Kaap af is en omdat meeste van sy vriende en familie hier is. Hy het nie baie mense daar geken nie, maar het tog die beste van dit gemaak. Hy geniet sy kursus so baie, en ek kan sien hy is lief vir dit wat hy studeer. Hy is ook baie aktief en oefen baie. Hy inspireer my om daagliks my alles te gee en net ’n lekker mens te wees.
Corneli, wat was die hoogtepunt van jou skoolloopbaan tot dusver? Hoekom?
- My graad 11 jaar as ‘n geheel staan vir my uit. Ek het so baie ontwikkel gedurende die jaar. Ek het dinge bereik wat ek nog nooit van tevore het nie, en is ook as hoofleier aangewys. Daar is wel twee spesifieke hoogtepunte waarvan een interskole in 2023 was. DIt was ons eerste “volledige” interskole tuis. As gevolg van die pandemie was ons vir twee jaar gekelder.. Dit was ‘n onthou-geleentheid vir my van gees, liefde, talent en passie. Ek sal enige dag weer teruggaan en dit alles oordoen. Nog ‘n defnitiewe hoogtepunt was ons graad 11 roei-toer, wat beslis een van die beste tye van my lewe was. Ons was ‘n groot groep gr.11s wat Oranjerivier toe was en ek het elke liewe oomblik van daardie toer geniet. Ek het verhoudings met mense gebou waarmee ek nie so “close” was nie. Dit is en sal altyd een van my kosbaarste herinneringe bly.
Waaroor dagdroom jy?
- Sommer oor alles en almal. Ek dink wel baie oor my toekoms en oor wat ek eendag gaan word, en hoe my lewe gaan uitdraai. Ek dagdroom myself in baie verskillende realistiese situasies en hoe ek dit dan hanteer. Verder dagdroom ek oor dinge wat heel moontlik nooit sal gebeur nie, soos dink jouself in ek ontmoet vir Taylor Swift of Noah Kahan. Ek wonder wat ek sal sê, of ek ongemaklik sal wees, en of ek net lekker sal gesels.
Hoe sal jy graad 7s oorreed om jou skool te oorweeg vanaf graad 8?
- Hoërskool Durbanville is my tweede huis en kan binnekort ook joune wees. Ons skool bied ‘n verskeidenheid aktiwiteite om van te kies en aan deel te neem wat verseker dat jy iets gaan kry waarvan jy hou. Ons opvoeders is hoogs gekwalifiseerd en het werklik ‘n passie vir tieners en hulle vakgebied (of sport, kultuur, leefstyl of leierskapgebied.) Hoërskool Durbanville is soos ‘n veilige hawe vir my, en die mense wat ek hier leer ken het, het gemaak wie ek vandag is. As jy vyf jaar van jou lewe wil geniet, uit jou boks uit wil klim, nuwe dinge probeer of net jouself wil wees – Hoërskool Durbanville het ‘n net plekkie vir jou.
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
- Ek weet nog nie ‘n presies nie, maar neig in die rigting van medies, maar nie noodwendig medies self nie. Defnitief iets met mense, en nie heeldag in ‘n kantoor nie, want ek is te veel van ‘n ekstrovert daarvoor. Ek het ‘n belangstelling in fisioterapie en dalk biomediese ingenieurwese. My hoofdoel is om iets te doen waar ek ander mense sal kan help en hulle lewens kan verbeter, selfs al is dit met iets baie klein. Ek is nie so gepla met watter Universiteit nie, aangesien ek nog nie weet wat presies ek wil doen nie. Ek glo wel ek sal gaan waar ek moet wees wanneer ek uitvind wat ek wil word.
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
- Ek dink hulle sal sê ek is optimisties, hardwerkend, passievol, vriendelik en defnitief iemand met “fomo.” Dan dink ek ek is betroubaar en ‘n veilige hawe vir mense waarheen hulle kan kom as iets pla of as hulle raad of hulp nodig het. Ek is ‘n bok vir sports en is meeste van die tyd oral betrokke en is lief vir wat ek doen. Ek dink hulle sal my beskryf as ‘n lekker mens en dit geniet as ek in hulle geselskap is en saam dinge doen.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf