Van jagveld tot sportarena – Danaé du Plessis, is ‘n graad 9 leerder van Hoër Meisieskool Oranje. Haar pad na luggeweerskiet het van jagveld tot die sportarena ontwikkel. Wat begin het as ’n familietydjie in die veld, het vir Danaé du Plessis, ontwikkel tot ’n passievolle sportroeping. Met ’n pa wat ’n professionele jagter is, het sy van kleins af saam met hom gejag. Sy het haar eerste ervaring reeds op vyfjarige ouderdom gehad.
Deesdae is luggeweerskiet vir Danaé veel meer as net ’n stokperdjie. Sy benader dit as ’n volwaardige sport waarin sy haarself wil ontwikkel en uitblink. Die sport vereis intense fokus, volgehoue oefening en ’n sterk wil om te verbeter – iets wat Danaé met oorgawe nastreef.
Sy het al aan verskeie kompetisies deelgeneem. Danaé glo dat elke geleentheid haar help groei – nie net in vaardigheid nie, maar ook in selfvertroue. Haar grootste beloning is die oomblik wanneer sy haar teiken tref en weet dat haar harde werk vrugte afwerp.
Soos met enige sport, kom uitdagings ook voor. Soms is die teiken moeilik en nie duidelik sigbaar nie. Dit het haar egter geleer om geduldig te wees en aan te hou probeer. Sy beskryf luggeweerskiet as ’n kalmerende aktiwiteit. Danaé moedig ander aan om dit te probeer, veral dié wat op soek is na iets nuuts en uniek.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








