Vanaf 5-7 Oktober het Hoërskool Upington se o/15 A netbalspan aan die Nasionale Kampioenskappe deelgeneem in Vanderbijlpark. Die top 2 spanne uit elke provinsie het meegeding om die top posisie in die land. Dit was 3 dae van baie opwinding en groot uitdagings vir die span.
Uppies bevind hulself in ‘n sterk poel met onder andere Oranje Meisieskool, Affies, Rustenburg en Paarl Girls High. Die span moes hul eerste twee wedstryde op aksie netbalbane speel weens reën. Dit was ‘n groot uitdaging omdat dit hul eerste wedstryd ooit op so ‘n baan was. Om die uitdaging groter te maak kom hul te staan teen Oranje Meisieskool van Bloemfontein. Soos ware Uppies het hulle die uitdaging met groot moed aangepak en as oorwinnaars uit die stryd getree. Die meisies het ware “Uppie guts” gewys en was halftyd gelykop teen Affies met 7 elk. Uppies wen vyf van hul ag poelwedstryde en kwalifiseer dan om uit te speel vir ‘n posisie in die top 8 in die land. Na 3 dae se harde netbal eindig Uppies se o/15 netbalspan algeheel 8ste in die hele Suid-Afrika. Ons is geweldig trots op hierdie mooi prestasie.
Foto:
Agter vlnr: Di-Marie Visser, Janice Avenant, Berna Kilian
Middel vlnr: Beryl Ndhlovu, Dolla Lombard (Afrigter), Nina Slabbert
Voor vlnr: Raylene Muller, Marnel Oberholster, Elanie Brand