Hoërskool Upington Drama het soos oudergewoonte weer die tienertoneelwêreld aan die brand gespeel tydens die afgelope seisoen. Hulle het drie uiteenlopende produksies, Afrikaans…’n De-Konstruksie, Rooiplaas en POLS, op die planke gebring.
Afrikaans…’n De-Konstruksie het bietjie die draak gesteek met Afrikaans as taal en die mense wat die taal praat. Rooiplaas het die soeklig op plaasmoorde en tieneridentiteit gewerp. POLS, ‘n bewegingsteaterstuk, het gehore na hulle asem laat snak met ‘n hoogs-tegniese en visuele skouspel.
Die jaar is afgeskop tydens die Reza de Wet Toneelfees, ‘n jaarlikse uitnodigingsgeleentheid wat tydens die Vrystaat Kunstefees plaasvind, waar twee van die drie stukke hulle debuut gemaak het. Hier het Sunell-Mari Mostert Beste Vroulike Byspeler gewen vir haar vertolking van verskeie rolle in Afrikaans… ‘n De-Konstruksie.
Volgende aan die beurt was dit die Namakwaland Toneelfees te Springbok. Daar het al drie stukke opgetree en met verskeie individuele, tegniese en ensemble pryse asook nominasies vir feespryse in elke kategorie weggestap. P.G. Marais word ook aangewys as die Mees Belowende Akteur van die hele fees.
Die naweek hierna het hulle vertrek na ‘n baie koue Fraserburg om deel te neem aan die Logan Toneelfees. Daar het die drie stukke oorweldigende positiewe reaksie ontlok en het ‘n magdom toekennings ontvang. Rooiplaas en POLS word albei genomineer vir Beste Produksie. Juf. Lesley Swart stap ook weg met die Beste Nuutgeskrewe Teks vir haar stuk “Rooiplaas”.
Die laaste optredes het plaasgevind tydens een van die ATKV Tienertoneelstreeksuitdunne in Pretoria. Hier dring twee stukke, Rooiplaas en POLS deur na die top 5 produksies van die week.
Baie dankie aan al die leerlinge, ouers en onderwysers wat hulle tyd (selfs tydens die vakansie!), energie en hulleself opoffer om weereens teaterervarings uit die boonste rakke te verseker.
Op die foto bo:
VOOR: Andisiwe Cetyiwe en Zanele Bovu.
MIDDEL: Karabo Sephapo
AGTER: Lynette Engelbrecht, P.G Marais en Marie Minnaar
Become a Sponsor