Toutrek. Nege van Hoërskool Strand se Arend-toutrekkers het op Donderdag, 23 Junie, saam met die senior toutrek lede van die Helderberg-klub na Pretoria vertrek. Hulle het aan die Suid-Afrikaanse Klub Toutrek Kampioenskappe in Pretoria deelgeneem. Aanvanlik het sake nie so goed verloop nie. Die bus het tussen Somerset-Wes en Stellenbosch gebreek. Verder het ‘n band van een van die sleepwaentjies gebars en daar was ‘n misverstand met die verblyfreëlings. Ten spyte van al hierdie terugslae, het Hoërskool Strand se toutrekkers die medaljes ingeryg.
Die uitslae is soos volg:
- 540kg dames – goud
- 500kg dames – brons
- 500kg o.23 dames – silwer
- 560kg mix – goud
- 580kg mix – brons
- 640kg presidentliga – goud
Die Helderberg toutrek klub het aan die einde van hierdie kompetisie tweede in die WP geëindig.
Capping
Na hierdie kompetisie het die “capping”-geleentheid van die nasionale spanne ook plaasgevind. Melizza van der Merwe is in die Suid-Afrikaanse Protea-span (SA Springbokspan) opgeneem en Nina Esterhuysen in die SA Gazelle span (SA B-span). Hulle gaan albei Suid-Afrika vanaf 14 tot 18 September by die Wêreldkampioenskap in Holten, Nederland verteenwoordig. Melizza trek in die groen en goud en gaan Suid-Afrika teen ander lande verteenwoordig. Nina gaan vir Suid-Afrika aan die ope klub kampioenskappe deelneem.
Albei afrigters, Schalk van der Merwe en Zounica van der Merwe, is ook in van die Protea-spanne opgeneem. André van Rooyen, die laerskoolafrigter, is in die Gazelle-span opgeneem.
Hoërskool Strand oudleerders, Zounika van der Merwe, Tara Kruger, Rico Thiart, Elandré Kemp en Steffie Visser (Sheppard) het ook hulle Prorea-kleure ontvang.
Wat hierdie geleentheid nog meer spesiaal maak, is dat Melizza, Zounica en hulle pa, Schalk van der Merwe, al drie in die Protea-groep ingesluit is!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf