Swemafrigter by Ironman – Hoërskool Stellenbosch vier met trots die ongelooflike prestasie van hul eie swemafrigter, Sylvia van Tromp by Ironman. Sy het Suid-Afrika verteenwoordig by die Ironman 70.3 Wêreldkampioenskap 2025 in Marbella, Spanje.
Sylvia het met haar kenmerkende krag en geloof die uitdagende driekamp aangepak. Dit bestaan uit ‘n 1,9 km swem, 90 km fietsry en 21,1 km hardloop. Sylvia het nie net die vinnigste swemtyd in haar ouderdomsgroep behaal nie, maar ook ’n 20ste plek wêreldwyd ingeneem. Dit is ’n prestasie wat haar naam tussen die wêreld se top-atlete plaas.
Wat hierdie prestasie nóg meer besonders maak, is dat Sylvia haar passie vir sport daagliks met haar leerders deel. As swemafrigter by Hoërskool Stellenbosch inspireer sy jong swemmers om hul grense te verskuif. Sy wys met haar eie voorbeeld dat deursettingsvermoë en harde werk vrugte afwerp. Haar leerders weet dat sy nie net langs die swembad staan om tegniek te verbeter nie, maar dat sy self die uitdagings van ’n internasionale sportarena trotseer.
Die Ironman 70.3 is bekend as een van die mees veeleisende uithouvermoë-wedstryde ter wêreld. Sylvia se sukses is dus ’n bewys van haar ongelooflike dissipline, vasberadenheid en liefde vir sport. Vir die skoolgemeenskap beteken dit dat hulle ’n rolmodel het wat wys dat groot drome haalbaar is – of jy nou ’n jong leerder is wat net begin swem, of ’n afrigter wat jou eie grense toets.
Sylvia maak Hoërskool Stellenbosch baie trots. Hulle voel ook baie bevoorreg om haar as deel van hul Stellenbosch-familie te hê.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








