Strand Hoofdogter. Schools That Rock is bevoorreg om ‘n paar vrae te vra aan Lien Hoogenboezem, Hoofdogter vir 2022 van Hoërskool Strand.
Lien, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoërskool Strand?
Ek sien my rol as iemand wie ander leerders sal inspireer om passievol te wees oor ons skool. Ek sien dit ook as iemand wie maklik benaderbaar is en wie almal ondersteun.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Hoërskool Strand jou vir die rol as leier voorberei?
Ek is in my graad 8-jaar klaskaptein. Daarna is ek verkies as ‘n graadverteenwoordiger vir drie jaar. Ek het baie ondervinding in ‘n leiersposisie en ek het al ‘n hele paar opleidingkursusse bygewoon.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
My grootste inspirasie is my ma. Sy het my ongelooflik baie lewenslesse geleer en sy stel vir my die beste voorbeeld (wat ek elke dag volg) vir hoe om ‘n sterk vrou te wees wat dinge régkry.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Ek het op die oomblik net ‘n vae idee, en dit verander dikwels. Ek wil moontlik in die mediese-of ingenieurswese-rigting gaan.
Wat staan vir jou die meeste uit by Strand?
Die eerste ding wat ek besef het toe ek in graad 8 in my skool gekom het, was hoeveel dit soos ‘n eenheid voel. DIt is vir my so lekker om deel te wees van iets groter.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ja, deelname aan sport leer vir enige iemand ongelooflik baie nuttige eienskappe soos spanwerk en taktiek. Dit is ook ‘n plek waar leerders sosiaal is en maklik vriende maak.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Ek het alle sosiale aktiwiteite verskriklik geniet. Die sokkies in ons skool (voor Covid-19, natuurlik) is van my beste herrinneringe. Ek het ook in 2019 aan ‘n Musiekblyspel deelgeneem en ek kan eerlikwaar sê dat dit die beste belewenis in my lewe was.
Wat is jou doelwitte vir Strand tydens jou dienstermyn?
Ek wil ons visie, ArendTrots, bevorder deur om as ‘n voorbeeld op te tree van ‘n leerder wat lief is vir hul skool.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Ek word motiveer deur erkenning. Die standaard wat ek vir myself hou Is baie hoog, so dit is baie lekker om elke nou en dan myself te beÏndruk (en dan te beloon).
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van jou skool te word?
Hoërskool Strand is ‘n ongelooflike skool wat die grootste invloed gehad het in my groei as ‘n persoon. Hierdie skool het ‘n hand gehad in hoe suksesvol ek vandag is, en altyd sal wees. Ek sal enige leerder aanraai om na Hoërskool strand toe te kom om ook so ‘n ongelooflike ondervinding te kry, en ook om die beste herrinneringe te kan hê.
Wat is jou toekoms-ideale?
Ek wil graag oor 30 jaar terugkyk eendag tevrede wees met alles wat ek bereik het. Ek sal graag wil passievol wees oor my werk, en die gelukkigste moontlike lewe hê.
Foto verskaf
Lees meer oor Hoërskool Strand:
Become a Sponsor








