Sentraal Krieket kaptein. Schools That Rock gesels, in hul reeks oor skole se krieket kapteins, met verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span Krieket-kapteins. Ons elfde bal word vandag geboul na AJ Fourie, kaptein van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein se 1ste krieketspan.
” Ek het begin speel toe ek 7 jaar oud was. Dis ‘n opwindende spel en daarom hou ek van krieket. Ek het besluit om krieket te speel omdat dit net ‘n baie lekker sport is om te speel.
Die eerste keer wat ek as kaptein verkies was, is aan die begin van 2020. Myns insiens is die grootste taak van ‘n krieketkaptein, tydens oefening sowel as tydens wedstryde, om ‘n voorbeeld te stel vir jou spanmaats en om leiding te neem. Om goed op dreef te wees, oefen ons eerste span vier keer per week.
My eerste krieket-wedstryd as kaptein was nogal stresvol, maar opgewonde. Veral na ‘n lang tyd wat ons nie gespeel het nie, as gevolg van die Covid-19 pandemie.
Bekwaamhede
As ek moet sê oor watter bekwaamhede ‘n goeie krieketspeler moet beskik, moet hy kan vining kan hardloop en ‘n bal ver kan gooi. My sleutel tot sukses op die krieketveld is om altyd kalm en rustig te bly, ongeag die omstandighede waaronder die wedstryd plaasvind.
Wat my inspireer elke keer wanneer ek op die veld stap, is om net my beste vir my span te gee.
My grootste krieketheld is Quinton de Kock. Ek hou van sy sy tipe spel en sy bekwaamheid met die kolf. As ek moet kies tussen kolf en boul, verkies ek om te kolf. Ek voel gemakliker met ‘n kolf in my hande.
Wanneer ek moet sê watter wedstryd ek die meeste geniet het, was dit toe ek my eerste honderdtal geslaan het. Met daardie wedstryd was my familie en vriende daar om die vreugde saam met my te beleef. Daardie kolfbeurt sal my altyd bybly.
Hoewel ek dit verkies om te kolf, het ek ook al sukses gesmaak met die bal toe ek, tydens ons toer na Mosselbaai, waar ek 4 paaltjies vir 35 na 10 boulbeurte geneem het.
Druk op veld
As ek druk ervaar op die veld, vertrou ek myself en die besluite wat ek neem. Ek verander dit nie. Aan beginners kan ek die raad gee om nooit moed op te gee nie altyd positief te bly. Na ‘n moeilike wedstryd sal ek altyd my oupa raadpleeg want hy is baie wys. Ek gesels ook graag met my nefie want hy het baie krieket-kennis.
Ons het ook, soos in meeste sportsoorte, ‘n “nar” ins ons span. Sy naam is Jayden Betty.
Ek word die meeste verras op die veld deur een van ons spinners. Hy neem in elke wedstryd meer en meer paaltjies. Die bouler wie ek die meeste gevrees het, is een van my vriende. Hy kon lekker vinnig boul!
Ek kyk graag na die Proteas op televisie. Ek kan elke keer iets nuuts leer en om krieket te kyk, is lekker.
In my vrye tyd spandeer ek graag tyd met my geliefdes en vriende en ek hou ook daarvan om saam met my hond te speel.
As ek myself in een woord moet beskryf, sal dit wees: geesdriftig.
Foto verskaf
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za