Schools ThaT Rock het met Magé Troskie, Hoofdogter van Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, gesels.
Vraag: Waarna sien jy die meeste uit wanneer die 2021 skooljaar begin? Ek sien uit om my laaste jaar in Oranje die beste jaar van my hele skoolloopbaan te maak! Ek sien uit om alles vir oulaas saam met my vriendinne te doen: die danse, die lag en selfs al die trane wat vir ons wag. Ek sien uit om die mense rondom my te lig en te motiveer! Ons is reg vir hierdie onbekende jaar met al sy uitdagings. Challenge accepted, universe!
Vraag: Is daar enige aanpassings/ veranderinge wat jy graag wil sien gebeur by Oranje? In my opinie het alle skole ruimte vir verbetering as dit kom by hul dissipline. Ek sal meer aandag fokus op die hoeveelheid respek wat die meisies vir hulself het. Sodra dit verbeter sal hulle respek teenoor almal en die skool ook verbeter.
Vraag: Indien jy iemand moet oorreed om OMS hul keuse te maak, wat sal dit wees? Oranje het ’n plek vir almal. Daar is baie geleenthede vir die sportpresteerders en ons akademie is uitstekend! Ons het ongelooflike personeel wat nie net goeie onderwysers is nie, maar ook goeie mense. Susterskap. Gees. Jouself wees. Oranje het plek vir die lesers, die sangers, die dansers en die dromers!
Vraag: Wie is jou rolmodel by jou skool? Dis moeilik om slegs een rolmodel te hê, want dit voel asof ek na almal kan op kyk en iets by almal kan leer. Selfs by die meisies in die jonger grade. Juffrou Klink (skoolhoof) is beslis my grootste rolmodel. Haar kop en haar hart werk saam. Sy is sterk, want sy weet waar haar krag vandaan kom en sy is terselfdertyd vrolik en het ’n goeie sin vir humor. Almal is lief vir haar en dis hoe die respek groei.
Vraag: Watter sportsoort is jou gunsteling? Ek is malllll oor netbal!
Vraag: Wat is jou gunsteling gereg? Redelik voor die hand liggend: Dun gesnyde skaaptjops (met braaisout en bietjie suurlemoen op), aartappel gereg, braaibroodjies (met chutney op) en heerlike slaai (vir ingeval my ma hierdie lees).
Vraag: Watter loopbaan wil jy volg ná skool? Ek wil graag bedryfsingenieurswese gaan studeer en ’n bietjie musiek maak tussendeur.
Vraag: Na watter universiteit wil jy volgende jaar gaan? My plan is om eers vir ‘n jaar in Duitsland te gaan au pair. Ek het die geleentheid om te gaan, so ek gaan dit met twee hande aangryp! Daar kan ek goeie geld spaar om my studies te help betaal en ek gaan ’n mooi deel van die wêreld sien! Wanneer ek terugkeer sal ek graag aan die Universiteit Stellenbosch wil studeer.
Vraag: Wat is jou boodskap aan jou mede-skoliere vir 2021? John Mayer het gesê dat ons moet lag deur die verwarring, glimlag deur die trane en onsself herinner dat alles vir ’n rede gebeur. Ons is almal baie gretig om terug te keer skool toe. Alles met goeie tyd. (Jes. 60:22). Trust the flow, girls.
Foto verskaf