Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om die kaptein van Hoërskool Outeniqua se 1ste Muurbalspan, Wikus Jordaan, aan die lesers van ons webtuiste voor te stel.
“My passie vir muurbal het in graad sewe vlam gevat toe ek myself die eerste keer aan die binnekant van ‘n muurbalbaan bevind het. Die ingeslote ruimte, reuk van aksie en uitdaging in spoed het met my hart gepraat.
Maar die spel lyk van die kantlyn af makliker as die uitdaging wat dit werklik stel. Eers na vyf jaar se harde werk, teleurstellings en vreugdes kon ek myself in die tweede rangposisie van die Kwaggas se eerste muurbalspan bevind.
Maar die droom was byna in Desember 2019 verpletter. Tydens ‘n rotssprong in die berge breek ek my fibula sleg. Met twee staalpenne in my been, waarmee ek steeds speel, was ek maande aan my bed gekluister en moes ek lank met ‘n kruk rondhop.
Sport, waaronder ook hokkie, het ‘n groot deel van my lewe gevorm, maar van bergklim, draf en muurbalballe moker, was na die ongeluk geen sprake meer nie. Ek moes teen ‘n donker put veg. Gelukkig met COVID-19 wat maande geduur het, kon ek die tyd gebruik om weer my kop helder te kry. Ek het besluit om in my matriekjaar net op muurbal te fokus. Na maande se rehabilitasie kon ek weer by die muurbalspan aansluit waar ek as kaptein aangewys is en vir die Edenstreekspan aan die SA Plattelandse Muurbal Kampioenskappe kon deelneem .
Ons span oefen elke week twee ure op die baan asook twee ure in die gimnasium. Die dae wat ons nie uitgemergel word nie, oefen ek op my eie in die gimnasium om my plofkrag te verbeter. Draf en bergklim vorm ook deel van my roetine.
Ek geniet dit om kompeterend saam met spanmaats as ‘n groep deel te neem, maar bly dit ‘n individuele sport waarin ek myself kan uitdruk en weet ek dat die uitkomste direk verband hou met my opoffering en spel op die baan.
As kaptein wil ek graag ‘n waardige voorbeeld vir die span stel en ‘n omgewing skep waar almal gemaklik, maar tog doelgerig en toegewyd is. Ek wil die jonger spelers inspireer en motiveer om die beste te lewer waartoe hulle in staat is, op én af van die baan af. Ek wil hê dat hulle ‘n ingesteldheid vorm waar hulle deurentyd glo dat hulle nog ‘n kans staan om te presteer al lyk alles verlore. Dit is waar van die lewe waar talle laagtepunte beleef word, maar ook van muurbal waar die spel vinnig in jou guns kan draai indien jy bly vasbyt en glo.
Muurbal is vir my ‘n metafoor van die lewe. Soms moet jy geduld betoon en jou kans afwag om die beste hou te speel waartoe jy in staat is. Soms moet jy op die aanval wees soos om in die lewe jou drome na te jaag. Soms faal jy, maar soms kry jy dit ook reg om daardie hou terug te speel wat almal gedink het onmoontlik was.
Miskien sal ek nooit teen die beste van bestes in muurbal speel nie, maar die genot van die sport sal my altyd ‘n deelnemer maak en my die geleentheid gee om myself en my menswees uit te leef.”