Schools That Rock vra ‘n paar vrae aan Diana van Niekerk, Hoofdogter van Hoërskool Pietersburg.
Vraag: Hoe sien jy die invloed van die Covid19 virus op ons land?
Ek sien Covid 19 as ‘n virus wat radikale verandering in ons land veroorsaak het. Dit het mense laat besef wat werklik belangrik is in die lewe… familie, gesondheid en om tyd saam met die Here te spandeer. Covid 19 het elke persoon laat stil staan in sy/haar besige lewe en hul laat besef hoe baie dinge ons as vanselfsprekend aanvaar, maar waarvoor ons baie dankbaar moet wees. Covid 19 is ‘n uitdaging wat veroorsaak dat ons volk saamstaan en mekaar ondersteun.
Vraag: Dink jy dat die virus ‘n invloed op toekomstige onderwys gaan hê? Gaan skole anders kyk na onderwys?
Die virus gaan beslis die onderwysstelsel verander. Ek glo dat onderrig hierna baie meer elektronies gaan plaasvind. Die skoolstrukture gaan minder gestruktureerd wees en leerders gaan aan meer aanlyn platforms bekendgestel word.
Vraag: Hoe/wat beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
Ek gaan baie hard werk en deeglik beplan om steeds my doelwitte te bereik. Wat leierskap aanbetref gebruik ons sosiale media om ons skool se leerders gemotiveerd te hou en om ons leerders te inspireer. Van die aktiwiteite wat ons vir hierdie haar beplan het gaan ons aanpas en aanlyn laat plaasvind. Die res van die aktiwiteite gaan ons deeglik beplan sodat dit steeds inpas op hierdie jaar se kalender.
Wat my akademie aanbetref gaan ek hard werk en baie selfdissipline moet toepas om my doelwit uitslae te behaal.
Vraag: Wat beplan jy vir jou toekoms? Loopbaan?
Ek het ‘n passie vir mense en vind vreugde daarin om ander te help, daarom wil ek graag Arbeidsterapie studeer. Ek beoog om in 2021 met my studies aan die Universiteit van Stellenbosch te begin.