Schools That Rock het ‘n paar vrae gestel aan Derik Gouws, Hoofseun van Hoërskool Wolmaransstad.
Vraag: Waarna sien jy die meeste uit wanneer die 2021 skooljaar begin? Die ding waarna ek persoonlik die meeste uitsien is om te sien hoe ons as skool ‘n aanpassing kan maak in hierdie vreesaanjaende tye. Ek sien dus ook uit om my mede-skoolleerders te sien en om, hopelik, elkeen van my onderwysers in goeie gesondheid te sien.
Vraag: Is daar enige aanpassings/ veranderinge wat jy graag wou sien by jou skool? Verandering neem tyd, maar ek sal graag die verandering in aksie wil stel in verband met ons skool se sport-bywoning asook die deelnamesyfers van ons skool se sport. Ons sport is verlede jaar bedreig deur hierdie COVID-19 virus, maar ek glo dat, indien ek en my mede-dagbestuurslede ‘n verandering kan maak in die lewenslus van ons leerders, ons maklik ‘n trappie hoër kan klim wanneer dit kom by ons sport.
Vraag: Indien jy iemand moet oorreed om Wollies hul keuse te maak, wat sal dit wees? Wollies praat vir homself, maar ek sal self ‘n paar punte stel. Hoërskool Wolmaransstad is ‘n gebied waar wenners gekweek word. Ons het verskeie Interhoër oowinnings onder die belt en op kulturele gebied is daar leerders wat soos helder sterre glinster. Ons onderwysers gee hul hele hart vir ons skool en dit word weerspieël in ons leerders se puik akademiese prestasies. By Wollies is daar ‘n atmosfeer van eenheid. Al ons leerders staan onder dieselfde skoolwapen en elkeen word beskou as ‘n Wollie, ongeag van kleur of godsdiens.
Vraag: Wie is jou rolmodel by jou skool? Al ons onderwysers stel ‘n goeie voorbeeld vir hul leerders. Om een uit te sonder kan ek nie. Al ons onderwysers dra die belange van hulle leerders op hul harte en elkeen van hulle het hul eie rol wat hulle in elke leerder se lewe speel.
Vraag: Watter sportsoort is jou gunsteling? Ek neem aan verskeie sportsoorte deel, maar my gunstelling is vir seker atletiek. Die atmosfeer wat geskep word voor elke wedloop en die ondersteuning vanaf jou mede skool leerders is genoeg om ‘n mens hoendervleis te gee.
Vraag: Wat is jou gunsteling gereg? My gunstelling gereg sal maar my ma se Beef Stroganoff moet wees.
Vraag: Watter loopbaan wil jy volg na skool? Ek stel verskriklik belang in handewerk en om goed aanmekaar in te sit en ook om self goed te maak. Ek sal graag ‘n meulmaker wil word.
Vraag: Na watter universiteit wil jy volgende jaar gaan? My hart is gerig op Sol-tech.
Vraag: Wat is jou boodskap aan jou mede-skoliere vir 2021? My mede-leerders, ek wil graag aan julle vra om jouself heeltemal toe te wy aan alles wat jy doen. Neem elke bul by die horings en maak elke dag jou dag. Wees bereid om te help, staan skouer aan skouer saam met jou mede-leerders want jy het hulle nodig en hulle het jou nodig.