SA Vroue Hoëprestasiehokkiegroep. Hoërskool Fichardtpark se Casey-Jean Terblanche gekies vir SA Vroue Hoëprestasiehokkiegroep.
Hoërskool Fichardtpark is trots om aan te kondig dat Casey Terblanche, die skool se dogtershokkie-direkteur, verkies is tot die Suid-Afrikaanse Vroue Hoëprestasiehokkiegroep vir 2025/2026.
Hierdie uitsonderlike prestasie is ’n erkenning van Terblanche se uitmuntende vaardighede, haar toewyding aan die sport en haar onmisbare rol in die ontwikkeling van jong hokkietalent. Sedert haar aanstelling by Hoërskool Fichardtpark het sy ’n dinamiese en inspirerende hokkiekultuur gevestig. Dit het nie net prestasie bevorder nie, maar ook karaktervorming en spanwerk onder leerlinge aangemoedig.
“Ons is ongelooflik trots op Casey,” sê die skoolhoof, Herman van der Merwe. “Haar insluiting in die nasionale hoëprestasieprogram bevestig wat ons reeds weet. Sy ’n leier van formaat en ’n ware ambassadeur vir vrouesport in Suid-Afrika. Haar werk het ’n tasbare impak op ons hokkieprogram en op elke speler wat onder haar leiding groei.”
Die SA-Vroue Hoëprestasiehokkiegroep is ’n elite platform wat die land se beste spelers en afrigters saambring. Dit is met die oog op internasionale voorbereiding en ontwikkeling. Casey se betrokkenheid sal nie net haar eie loopbaan verryk nie, maar ook nuwe geleenthede en insigte vir Hoërskool Fichardtpark se hokkieprogram ontsluit.
Hoërskool Fichardtpark wens Casey alle sukses toe op hierdie opwindende nuwe reis. Die skool sien ook uit na die positiewe invloed wat haar deelname aan die program op die skoolgemeenskap sal hê.

Lees meer skolenuus hier: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf









