SA Tennis Skolespan. As nommer een in Mpumalanga se tennisspan, het Arili Boshoff onlangs aan die nasionale skoletoernooi deelgeneem. Arili is een van Hoërskool Nelspruit se groot uitblinkers op die tennisbaan. Sy het die afdeling vir meisies o.17 absoluut oorheers. Sy het al haar kragmetings in die enkelspel gewen. In meisies- en gemengde dubbels, het sy net een wedstryd afgestaan! Hierdie skitterende prestasies is beloon toe Arili, na afloop van die toernooi, as lid van die SA Tennis Skolespan verkies is.
Deurgaans in beheer
Arili, moes telkens teen die ander provinsies se bestes speel. Sy het agtereenvolgens vir Lizzy Knoessen (Noord-Kaap), Isabella Basson (Gauteng-Noord A), Kaitlin Ramduth (KZN A), Marie-Sophie Heckel (Noordwes) en Shazneen Kholvadia (Oos-Gauteng) met die kous oor die kop huistoe gestuur. Dit was veral die kragmeting teen die hoogaangeskrewe Kaitlin Ramduth, wat die tonge los gehad het. Ramduth is een van ons land se beste en belowendste jong tennissterre. Sy het al verskeie oorsese toere meegemaak. Verder het sy Suid-Afrika op die internasionale verhoog verteenwoordig. Die Nelspruiter laat haar egter nie deur al die lofuitinge van stryk bring nie. Die finale telling van 6/3, 6/4 is ‘n duidelike bewys dat Arili deurgaans in beheer was. Dit was dan ook Kaitlin se enigste nederlaag in die toernooi.
Dubbelspel
In die dubbelspel, is ses wedstryde gespeel. Saam met Chizelle Rossouw, was Arili vyf keer in die meisiesdubbels aan die wenkant. So ook in die gemengde dubbels, waar sy en spanmaat Heinrich Rootman (wat ook in die nasionale onder 17-span opgeneem is), slegs een keer die knie moes buig.
Arili kom uit ‘n bekende Laeveld-tennisfamilie. Pa Pieter en Ma Jeanetta Boshoff het vir jare al Nelspruit se bane aan die brand gespeel. Ouma Sophie Putter was ook op haar dag ‘n gerekende liga-speler. Kleinsus Joslin is ook ‘n kranige sportmeisie. Verder is Arili ook ‘n veelsydige sportvrou. Sy het vroeër vanjaar die 100m vir meisies o.17, op die jaarlikse Laeveld vriendskaplike interhoër, gewen.
Arili se prestasies herinner aan die jare toe nog twee Nellies, Leoni Weirich en Tharina Steenkamp, ook SA-kampioene was. Neem gerus kennis van die naam Arili Boshoff – sy gaan D.V. vir nog vele ander groot prestasies op die tennisbane sorg!
Artikel: Kobus de Wet
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto: Hennie Homann