SA Internasionale jaggeweerskietkompetisie. 🎯 Skietster van Framesby blink uit op nasionale verhoog.
Hoërskool Framesby in Gqeberha kan met trots hul leerder, Ineke van Zyl, gelukwens met haar uitsonderlike deelname aan die SA Internasionale Jaggeweerskietkompetisie. Dit het onlangs in die pragtige dorpie Joubertina plaasgevind het.
Ineke was deel van die Suid-Afrikaanse junior jaggeweerskietspan, wat as ’n uitnodigingspan aan die kompetisie deelgeneem het. In ’n unieke wending moes die juniors teen volwasse spanne meeding, aangesien Namibië nie ’n juniorspan kon stuur nie. Alhoewel die span nie hul Protea-kleure kon verwerf nie, is hulle wel amptelik as die SA-junior jaggeweerskietspan “gecap.” Dit is ’n prestasie wat nie ligtelik opgeneem word nie.
Die juniors het hul staal gewys en ’n indrukwekkende derde plek in die uitnodigingspan-afdeling behaal. Wat nóg meer merkwaardig is, is dat hulle punte hoër was as dié van die Protea damespan. Nog ’n bewys van hul talent en toewyding.
🌟 Ineke het boonop haar individuele vaardighede ten toon gestel deur tweede plek in die Silwerklas van die Oos-Kaap Ope te verower. Haar presisie en kalmte onder druk het haar as een van die streek se voorste jong skuts gevestig.
Hoërskool Framesby is uiters trots op Ineke se prestasies en sien uit na haar toekomstige deelname aan nasionale en internasionale skietgeleenthede. Haar toewyding en deursettingsvermoë is ’n inspirasie vir haar medeleerders en ’n bewys dat harde werk vrugte afwerp.

Lees meer skolenuus hier: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor











