Rugby Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Rocco Oosthuizen. Rocco is die kaptein van Hoërskool Bastion in Gauteng se 1ste rugbyspan. Hy druk vandag die twaalfde drie in ons reeks oor Rugby Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“My eerste kennismaking met rugby was op die ouderdom van vier jaar. Rugby bied my ʼn geleentheid om weg te breek van alledaagse negatiewe gebeurtenisse. Tussen die vier lyne verdwyn elke bekommernis. Ek het rugby begin speel op so jong ouderdom omrede ek so ‘n groot passie gehad het daarvoor baie vroeg in my lewe.
My eerste wedstryd was redelik lank terug, maar in vergelyking met vandag, is die geluk wat ek voel met elke wedstryd presies dieselfde.
Raad aan beginners
My raad aan beginners in rugby, is dat die hardste werker altyd sal seëvier. Doen die ekstra werk nie net op die veld voor medespelers en afrigters nie, maar ook van die veld af, wanneer daar niemand is wat na jou kyk nie. Moet ook nooit moed verloor nie. Daar gaan moeilike dae wees in die vorm van beserings of wedstryde wat skeef loop.
Ek speel huidiglik losskakel. Ek het ook al skrumskakel, losskakel, binne-senter en heelagter gespeel.
Die eerste keer wat ek as kaptein gekies is, was in 2017 toe ek in Graad 7 was. Ek was toe as kaptein van die skool se eerste span verkies. Ek beskou die belangrikste taak van ‘n rugby kaptein om ten alle tye jou span positief en gemotiveerd te hou, maak nie saak wat die omstandighede is nie.
Ons span oefen vier keer per week. Ek het egter ook my eie oefen program twee keer ʼn week.
Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie rugbyspeler moet beskik, sou ek sê dat dissipline noodsaaklik is en dit loop hand aan hand met respek. Dit geld nie net vir jou medespelers en afrigters nie maar ook vir jouself.
Sleutel tot sukses
My sleutel tot sukses op die rugbyveld, is dat, wanneer jy op die veld is jy die beste speler met daardie nommer op jou rug moet wees. Jy moet aanhou speel totdat die eindfluitjie blaas.
Wat my, as rugby kaptein, inspireer wanneer ek elke keer op die rugbyveld draf, is die wete dat God saam my is en dat ek ʼn span het vol broers wat my rug het en daar is vir my.
My lekkerste wedstryd was my eerste wedstryd is ʼn Bastion trui teen Allen Glen High School. Dis ʼn wedstryd (soos my pa sou sê) waar alles net reg geloop het. Die gevoel om as wenners van die veld af te stap was onbeskryflik! Ek sou nie sê daar is een wedstryd wat ek gou wil vergeet nie. ‘n Mens leer uit jou foute en verbeter jou swakpunte. Elke slegte wedstryd is ʼn les.
Hoe hanteer ek druk tydens wedstryde? Wel, kalmte speel ʼn groot rol. Dis moeilik om ʼn goeie wedstryd te speel as jy die druk op jou skouers het. Daarom fokus ek net om ten alle tye kalm te wees en my kop skoon te hou.
Besluit wat werk
Besluite wat ek geneem het wat werk, is dat skepskoppe altyd my ‘go-to’ besluit is sodra ek sien die span sukkel om oor die voordeellyn te kom. Alhoewel die kans vir sukses 50-50 is, word die bal terug geskop na ons toe wat weer geleentheid bied om aan te val.
As ʼn speler en ook ‘n rugby kaptein kan jy nooit genoeg kennis dra nie. Daarom aanvaar ek my afrigters se raad en opinies as dit kom by swak besluite wat gemaak was.
My top prioriteite: sonder God sou ek nie die talent en voorreg gehad het om te kan doen waarvoor ek lief is nie. Daarom is my verhouding met God my top prioriteit. My familie se ondersteuning het ʼn groot bydrae tot my sukses, daarom is hulle ook een van my top prioriteite. Nog ʼn baie belangrike prioriteit is om gedissiplineerd te bly en die nodige werk in te sit.
My grootste rugbyheld is Joost van der Westhuizen.
Die doelwit wat ek graag hierdie jaar wil verwesenlik, is om goeie punte te verwerf en om verder te kan gaan met my rugby.
Voorspelers
Wie my die meeste verras het in ons span, is ons voorspelers tydens ‘n wedstryd teen Hoërskool Linden. Die opposisie was die groter pak gewees maar ons voorspelers het die wedstryd nogtans gedomineer.
Die nar in ons span is Duimpie. Hy sal altyd ʼn manier vind om die span se houdings positief te hou. Veral met grappies of sy “almal poep skelm” oefenhemp.
Ek sal nie eenhonderd persent weet hoe my afrigter en spanmaats my as rugby kaptein sal beskryf nie, maar ek hoop dit is positief omrede ek nooit iets sal doen om hulle teleur te stel nie.
My plan ten opsigte van rugby na skool, is beslis om daarmee voort te gaan. My doelwit is om eendag internasionaal te kan speel.
Ek dink die grootste uitdaging waaroor die meeste sportlui vandag staan, is om die kritiek te ignoreer. Baie mense probeer vir jou voor sê hoe om te lei, maar op die einde van die dag is jy in daardie posisie.
Verantwoordelikhede
Ek hanteer my verantwoordelikhede ten opsigte van rugby saam met my sosiale en akademiese pligte deur ‘n gesonde balans te handhaaf. ʼn Gesonde balans in die lewe is noodsaaklik, daarom kry akademie voorkeur. Rugby is vir my ʼn ‘escape’ van ander verantwoordelikhede. Rugby leer ʼn mens onwetend ook baie lesse wat jou kan help deur die lewe.
Wat my die gelukkigste in die lewe maak, is om te sien dat mense trots is op my. Ek het ʼn vrees om mense teleur te stel en daarom maak dit my ook gelukkig om ander ook trots te maak.
My grootste hoogtepunt is dat ek meer as 150 punte aangeteken het sover die seisoen.
Die professionele rugbyspeler met wie ek graag wil koffie drink, is Dan Carter.
Om myself in een wword te beskryf, sou ek sê briljant.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf