Rugby Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, geselsSchools That Rock vandag met Jadon Roodt. Jadon is die kaptein van Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein, se 1ste rugbyspan. Hy druk vandag die veertiende drie in ons reeks oor Rugby Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het al rugby begin speel voordat ek skool toe is. Ek was so vyf of ses jaar oud. Rugby is soveel meer as net ‘n sport. Ek dink mens leer baie as gevolg van rugby. Jy leer ook baie oor jouself. Ek het van klein tyd ‘n liefde vir die sport gehad en ek voel ek hoort met ‘n bal in my hand.
Ek kan onthou dat ek met my eerste wedstryd opgewonde, trots en ‘n bietjie bang was vir wat kom. Dit is wat ek kan onthou.
My raad aan beginners is hou aan om hard te werk en geniet dit net. Jy doen baie beter as jy dit doen wat jy geniet.
Die posisie wat ek speel is skrumskakel, nommer 9. Ek speel ook soms binne senter, maar nommer 9 is maar altyd my plek.
Eerste keer kaptein
Die eerste keer wat ek as rugby kaptein gekies is, was op die ouderdom van dertien. Ek was toe o/13 en het vir die laerskool gespeel. Ek dink die grootste taak van ‘n rugby kaptein is om seker te maak almal is op dieselfde bladsy en weet wat aangaan. Verder is dit ook om die span te motiveer en as voorbeeld te lei.
Ek hou my span gemotiveerd deur die span rustig te maak en ek lig die positiewe uit. Ek herinner ook almal wat hulle take en verpligtinge is.
Ons span het vyf oefen-sessies per week. Elke oefen-sessie duur negentig minute. Ek het ook my eie oefen-program in die gym en op die veld om my skerp te hou.
Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie rugby speler moet beskik is harde werk, verantwoordelikheid en respek. My sleutel tot sukses op die rugbyveld is om nooit op te hou werk nie en altyd die ekstra myl te loop.
Wat my elke keer, wanneer ek op die rugbyveld stap vir ‘n wedstryd, inspireer, is dat elke geleentheid dalk my laaste kan wees. Ek is ook dankbaar om te kan doen wat ek geniet. Daar is baie mense wat dit graag wil doen, maar nie die geleentheid het om die spel te kan speel nie.
Droom bewaarheid
In 2021 was skole-rugby gestop, maar ek het die geleentheid gekry om by ‘n klub te gaan speel. Dit was een van my drome om saam met my pa op die veld te gaan en dit het tydens ‘n wedstryd waar geword. Die eer om saam met my pa te speel was ongelooflik en iets wat my altyd sal bybly. Dit was my lekkerste wedstryd ooit.
Die wedstryd wat ek graag wil vergeet, was teen Hoërskool Goudveld. Ek het een van my swakste wedstryde gespeel en dit het tot gevolg gehad dat ek my plek as ‘n ‘youngster’ op 0/19 vlak in die eerste span verloor het!
As rugby kaptein hanteer ek druk op die veld deur rustig te bly en te fokus op wat ek moet doen. Om ook so gou as moontlik vleis op vleis te kry en ontslae te raak van die senuwees.
Die beste rugby-besluite wat ek geneem het, was om klubrugby en selfs rugby op ‘n hoër vlak te speel ongeag die risiko van beserings. Die ervaring wat ek opgebou het was beslis die moeite werd.
Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, soek ek beslis raad by my pa.
Top vyf prioriteite
My huidige top vyf prioriteite in die lewe:
- ‘n Sukses maak van elke dag
- Ek wil aanhou leer by mense wat al die pad gestap het
- Goeie verhoudings bou
- Ek wil groei in my geloof as ‘n Christen.
My grootste rugbyheld is Cheslin Kolbe.
My doelwitte wat ek graag hierdie jaar wil verwesenlik is om in ‘n rugby span opgeneem te word en om ‘n sukses te maak van my talent.
Die persoon in ons span wat my die meeste verras tydens enige wedstryd is Calvin Bolt. As ‘n ‘youngster’ het hy regtig hand opgesteek en bewys dat hy ‘n goeie speler is. Hy leef ook sy passie vir die sport uit.
Heindrich Hutchens
Die persoon in die span wie ek as die “nar” beskou, is Heindrich Hutchens.
My afrigter en spanmaats sal my beskryf as hardwerkend en dat ek daarna strewe om die beste uit almal op die veld te kry.
Ja, ek wil vir seker voortgaan om rugby te speel na skool.
Ek dink die grootste uitdaging waarvoor sportlui vandag staan, is dat sport sal voortgaan en nooit sal doodloop nie.
Hoe hanteer ek my verantwoordelikhede by rugby saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede? Wel, dit gaan maar rof, maar rugby is my prioriteit en ek beplan my ander verpligtinge rondom dit. Rugby is baie sosiaal en dit hou ‘n ou rustig en vol gees.
Wat my die meeste opgewonde in die lewe maak, is my familie en vriende en ook dat my pa op sy oudag nog steeds rugby kan speel.
My grootste hoogtepunt die afgelope vyf jaar, was toe ek verkies is as die kaptein van Hoërskool Jim Fouché se 1ste rugbyspan!
Die professionele rugbyspeler saam met wie ek graag sal wil koffie drink, is Cheslin Kolbe.
Ek sal myself in een woord beskryf as optimisties.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf