Rugby Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Helgard Bruwer. Helgard is die kaptein van die Hoërskool Robertson se 1ste rugbyspan. Hy druk vandag die vierde drie in ons reeks oor Rugby Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het rugby begin speel toe ek 7 jaar oud was en in Graad 1. Van die begin af het ek ‘n liefde vir die sport ontwikkel en só het dit my passie geraak. Ek is ook blootgestel aan rugby deur verskeie lede van my familie soos my pa en my broers! Ek het rugby gekies omdat dit mense bymekaar bring en omdat dit my hart gesteel het.
Toe ek my eerste wedstryd gespeel het was ek baie opgewonde. Ek wou net aan die bal raak en speel, maar tog was dit in ‘n mate ook oorweldigend gewees.
My raad aan beginners is om hard te werk en elke dag jou deel te doen. Om te glo in jouself en jouself nooit te meet teen ander nie, behalwe jouself.
Die posisie wat ek tans speel, is nommer 7 flank. Vroeër die jaar het ek ook as agsteman uitgedraf. In my laerskool jare het ek ook nommer 4 en 5 slot gespeel.
Eerste keer kaptein
Ek is vir die eerste keer as kaptein gekies in my tweede 0/15 jaar, in Graad 9. Die grootste taak van die rugby kaptein is om jou span te lei met voorbeeld deur dik en dun, maak nie saak wat nie. Nog iets is om die span se mentaliteit van die begin af reg te kry! Om elke speler te verstaan en die span te bind is ook baie belangrik.
Om my span gemotiveerd te hou tydens ‘n wedstryd, selfs wanneer dit nie goed gaan nie, herinner ek hulle wie ons is en waarin ons goed is. Dan‘restart‘ ons en hou die bal aan die rol. Ek maak dit duidelik dat daar geen ander uitweg is as om deur te druk na die einde nie!
Voor die eksamen het ons drie tot vier keer ‘n week geoefen. Die vierde oefening sal dan ‘n ‘captain’s run‘ wees die Vrydag voor die wedstryd. Nou in eksamen-tye oefen ons drie keer ‘n week waar ons fokus op kondisionering, fiksheid en individuele aandag. Ek het ook my eie oefenprogram wat gym, herstelling en strelwerk behels
Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie rugbyspeler moet beskik is deursettingsvermoë en uithouvermoë op en van die veld af. Kommunikasie is ook belangrik met sy mede-spelers en afrigters. Verder moet hy moet ook altyd nederig bly en dankbaarheid toon teenoor sy talent wat hy ontvang het.
Sleutel tot sukses
As rugby kaptein is my sleutel tot sukses op die rugbyveld om altyd 120% te gee en om my hart uit te speel. Ons span moet ook vir mekaar speel en die belangrikste is om mekaar te vertrou. Verder sal alles in plek val.
Wat my inspireer elke keer wanneer ek op die rugbyveld vir ‘n wedstryd draf, is die broers wat saam met my staan en die “WIL” om te wen. Om ‘n pawiljoen vol skoolkinders te sien wat ons kom ondersteun gee ons die inspirasie om goed te doen.
Die lekkerste wedstryd in my rugbyloopbaan was twee naweke gekede toe ons teen Hermanus tuis gespeel het. Ons het hulle 43-7 gewen. Dis vir my ‘n wedstryd wat ek defnitief altyd sal onthou. Die manier waarop die hele span ‘geclick‘ het en die manier waarop ons opgedaag het, sou niemand ons kon stop nie. Dis hoe dit moet wees!
Die wedstryd wat ek gou wil vergeet, was ons wedstryd vroeër die seisoen teen ons teen Worcester Gimnasium toe ons (nog steeds unbeaten) 13-12 verloor het! Ek dink nie ek sal regtig die wedstryd wil vergeet nie, want dit was ‘n goeie leerproses vir ons gewees. Ek sal eerder sê dat ons nie weer so ‘n wedstryd uit ons vingers sal wil laat glip nie.
Om druk, as rugby kaptein, voor ‘n wedstryd te hanteer, luister ek musiek. Gedurende die wedstryd help dit om van alles te vergeet en jouself af te skort en om 120% te fokus op wat op die veld aangaan.
Beste besluit
Die beste besluit wat ek in my rugbyloopbaan geneem het was om, toe die puntestand gelykop was, in die laaste 10 sekondes van die wedstryd vir ‘n strafskop pale toe te skop. Ons het toe die wedstryd teen Swartland 27 – 24 gewen.
Na ‘n moeilike, harde wedstryd, gesels ek met ons skool se persoonlike physio, Mnr. Van Dyk. Hy het altyd raad na ‘n harde wedstryd ten opsigte van hoe ons moet herstel en hoe lank ons moet rus. Verder vra ek my broers wat ook dieselfde paadjie as ek gestap het ‘n paar jaar gelede.
My huidige top 5 prioriteite in die lewe is om Graad 11 te slaag met goeie punte vir aansoeke by ‘n universiteit. Om Interskole te wen. My waardes en gehoorsaamheid in my hemelse Vader te verbeter. Om alles wat na my kant toe kom ‘n sukses van te maak. My standaarde wat ek vir myself gestel het, na ander uit te reik.
My grootste rugbyheld is Pieter-Steph du Toit. Die rede is omdat sy werkstempo altyd die hoogste is. Ek hou ook van die manier waarop hy speel en ek leer baie uit sy verdediging.
Doelwitte
My doelwitte wat ek graag hierdie jaar verwesenlik, is om die Interskole te wen. Ek het nog nie in my hoërskool loopbaan Interskole gewen nie en hierdie jaar is ‘n gulde geleentheid, omdat ons ‘n groep spelers is wat glo in wat ons sê.
Die persoon wat my gewoonlik die meeste tydens wedstryde verras, is Juhaim Abels, die heelagter. Daar is nie ‘n spesifieke wedstryd nie, want hy verras my nou al die hele jaar sover met die manier waarop hy die spel van die wedstryd lees.
Die “nar” in ons span is Kyle Seconds, ook genaamd as oortjies (nommer 14). Hy het hierdie unieke manier om op enige tyd snaaks te wees, maak nie saak wat hy doen nie.
My afrigter en spanmaats sal my beskryf as hardwerkend, veral in my verdediging, maar andersins net fisies.
Ja ek wil defnitief voortgaan met rugby na skool. As ek die kans kry wil ek baie graag oorsee gaan om daar my rugby loopbaan verder te vat. As dit bedoel dat ek eers in SA moet bly en hier aan my loopbaan bou, is ek gereed vir dit.
Die grootse uitdaging vir my, op hierdie stadium, is dat ek en ek weet baie ander spelers oefen ook en gee hul beste om hul volle potensiaal te bereik. Ongelukkig kry hulle nie altyd die nodige geleenthede en blootstelling om hul wense ‘n realiteit te maak nie.
Verantwoordelikhede
Ek hanteer my verantwoordelikhede by rugby saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede as volg: my beplanning is maar beknop, veral nou met die eksamen, maar ek dink ek wissel die drie aspekte mooi af tot op ‘n sekere punt. Ek probeer net my bes om elke dag die drie aspekte op ‘n goeie manier te handhaaf.
Rugby maak my oor die algemeen die meeste opgewonde in die lewe, maar om elke Saterdag my skool te verteenwoordig op die veld is ‘n ander gevoel en ‘n ander opwinding.
My grootste enkele hoogtepunt die afgelope vyf jaar is om vanjaar vir Boland by die Cravenweek uit te draf.
Die professionele rugbyspeler met wie ek graag wil koffie drink, is Duane Vermeulen. Hy lyk net na ‘n rustige mens van die veld af natuurlik. Hy lyk net na ‘n lekker mens.
Om myself in een woord te beskryf, sou ek sê, standvastig.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
https://hoerskoolrobertson.co.za/
Foto verskaf