Rugby Kaptein. In ons gewilde reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Clayton Uithaler. Clayton is die 1ste Rugbyspan Kaptein van Hoërskool Langenhoven in Riversdal, Wes-Kaap. Vandag druk Clayton die derde drie in ons reeks vanjaar oor Rugby Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Clayton, op watter ouderdom het jy begin rugby speel?
- Ek het begin rugby speel toe ek sewe jaar oud was.
Hoekom hou jy van rugby? Wat het jou laat besluit om rugby te speel?
- Ek hou baie van rugby want dit is waar jy van al jou emosies kan ontslae raak. Dit was nog altyd ‘n droom van my gewees om rugby te speel.
Hoe het jy gevoel toe jy jou eerste wedstryd gespeel het?
- Ek was baie opgewonde oor die wedstryd en ek het baie goed gevoel oor die wedstryd, want dit was ‘n mylpaal wat ek wou bereik in my lewe.
Wat onthou jy van jou eerste rugbywedstryd?
- Ek kan onthou dat dit ‘n harde wedstryd was en die ondervinding wat ek uit die wedstryd gekry het, is om altyd jou beste te gee.
Hoe het jy gevoel toe jy die eerste keer as Rugby Kaptein op die veld gedraf het?
- Ek het baie goed gevoel om my span te kan dra en om my skool trots te maak.
Watter raad sal jy, as rugby kaptein, aan beginners gee?
- Hulle moet aanhou, uithou en vorentoe kyk. Hulle moet die spel geniet.
Wanneer was die eerste keer dat jy tot kaptein verkies is?
- Ek is hierdie jaar vir die eerste keer as kaptein gekies.
Hoe hou jy jou span gemotiveerd tydens ‘n wedstryd – selfs wanneer dit nie goed gaan nie?
- Deur die span aan te moedig om hul beste te lewer en ook gedurende die wedstryd my ondersteuning te bied.
As rugby kaptein, wat is jou sleutel tot sukses op die rugbyveld?
- Om as ‘n eenheid op die veld te gaan en om as ‘n span die wedstryd aan te durf.
Wat inspireer jou elke keer as jy op die rugbyveld draf vir ‘n wedstryd?
- Die feit dat ek my span nooit in die steek sal laat of teleurstel nie.
In jou loopbaan tot nou toe – watter wedstryd was vir jou die lekkerste? Brei asseblief uit.
- Die lekkerste wedstryd vir my was een van ons wedstryde teen Hoërskool Punt. Gedurende die wedstryd het my spanmaats besef dat “size doesn’t matter” en wat my die heel gelukkigste gemaak het was dat ons skool ons regdeur die wedstryd ondersteun het. Ons het die wedstryd verloor, maar steeds het ons nie opgegee nie. Ons het geveg tot aan die einde.
Watter wedstryd wil jy gou vergeet? Jou slegste wedstryd? Hoekom?
- Die wedstryd wat ek gou wil vergeet was ‘n wedstryd teen Langengoven Gimnasium, Oudtshoorn. Met daardie wedstryd het ons ons grootste nederlaag van die jaar gely. Ons was as span baie negatief oor die wedstryd.
Wanneer jy, as Rugby Kaptein, ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, by wie soek jy hulp/raad?
- Ek vra raad van my afrigter, want ek wil altyd weet waar ons verkeerd gegaan het en hoe ons die fout moet regstel.
Clayton, wie is jou grootste rugbyheld? Hoekom?
- Manie Libbok. Hy insperieer my met die spel wat hy speel. Hy is ook van die beste losskakels uit my oogpunt uit. Ek hou ook van hoe hy ‘n rugbywedstryd kan beheer. Manie weet ook altyd wat om te doen as daar “loose play” is. Ek hou ook van hoe hy ‘n rugbywedstryd kan afrond.
Watter persoonlike rugbydoelwit/doelwitte sal jy graag vanjaar wil bereik?
- My doelwit is net om my skool trots te maak as Rugby Kaptein.
Wat was jou grootste enkele hoogtepunt van jou rugbyloopbaan tot dusver?
- Toe ons ons eerste twee tuis-wedstryde gewen het, was ‘n hoogtepunt vir my.
Neem jy voor en ná die rugbyseisoen aan ander sportsoorte deel? Indien wel, wat?
- Ek speel ook krieket.
Met watter professionele rugbyspeler wil jy graag koffie drink?
Ek sal baie graag wil koffie drink saam met Manie Libbok om meer by hom te leer.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf