Rugby Kaptein. In ons gewilde reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Christopher Strydom. Christopher is die 1ste rugbyspan kaptein van Hoërskool Bastion, Krugersdorp, Gauteng. Vandag druk Christopher die tweede drie in ons reeks vanjaar oor Rugby Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Christopher, op watter ouderdom het jy begin rugby speel?
- Ek het reeds op die ouderdom van vyf jaar begin rugby speel.
Hoekom hou jy van rugby? Wat het jou laat besluit om rugby te speel?
- Tussen daai vier lyne is almal dieselfde en kan ek as ‘n persoon my harde werk uitleef op die veld. Wanneer die wedstryd begin kan ek ontspan en van alles om my vergeet en net fokus op wat voor my gebeur. Ek was gebore met ‘n rugbybal onder my arm!
Hoe het jy gevoel toe jy jou eerste wedstryd gespeel het?
- Ek het elke oomblik daarvan geniet en ek het sommer dadelik verlief geword op rugby.
Wat onthou jy van jou eerste rugbywedstryd?
- Dit was teen Laerskool Dr Havinga en ons het in ‘n ‘Youth Tournament‘ gespeel. Ek het drie drieë gedruk tydens die wedstryd. Dit was vir my ‘n fantastiese dag!
Hoe het jy gevoel toe jy die eerste keer as kaptein op die veld gedraf het?
- Dit was en is nog steeds ‘n eer. My posisie as kaptein motiveer my om alles te gee op die veld sodat ek werklik ‘n voorbeeld vir die res van my spelers kan wees.
Watter raad sal jy, as rugby kaptein, aan beginners gee?
- Rugby gaan oor die spelers wat die hardste werk op en van die veld af.
Wanneer was die eerste keer dat jy tot kaptein verkies is?
- Ek was in Graad 4 as kaptein aangewys vir my klub rugbyspan.
Hoe hou jy jou span gemotiveerd tydens ‘n wedstryd – selfs wanneer dit nie goed gaan nie?
- Ek maak seker dat ek, as ‘n individu, my beste gee tot die laaste minuut. Ek herinner my span ook aan al die harde werk wat ons ingesit het op die veld deur die week. Ons speel nie net vir onsself nie, maar vir die hele skool en gemeenskap.
As rugby kaptein, wat is jou sleutel tot sukses op die rugbyveld?
- Ek vertrou op God.
Wat inspireer jou elke keer as jy op die rugbyveld draf vir ‘n wedstryd?
- Ek bid en herinner myself dat God my geseën het met baie.
In jou loopbaan tot nou toe – watter wedstryd was vir jou die lekkerste? Brei asseblief uit.
- Dit was ons wedstryd hierdie jaar teen Hoërskool Alberton. Ons span het perfek saam gespeel en hulle alles gegee.
Watter wedstryd wil jy gou vergeet? Jou slegste wedstryd? Hoekom?
- Geen wedstryd nie, want ek glo dat, selfs die slegste wedstryd teen ‘n span, ‘n waardevolle les is.
Wanneer jy, as Rugby Kaptein, ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, by wie soek jy hulp/raad?
- Ek vra my spanmaats en afrigters vir hulle opinie, want ek heg waarde aan die mense om my se menings.
Christopher, wie is jou grootste rugbyheld? Hoekom?
- Die Springbok, Pieter-Steph du Toit. Hy speel konstant top-vlak rugby en gee altyd sy beste.
Watter persoonlike rugbydoelwit/doelwitte sal jy graag vanjaar wil bereik?
- Ek wil saam met my span die finale bereik van ons liga, sodat ons die liga weer kan wen en Hoërskool Bastion se naam hoog hou.
Beoog jy om ná skool aan te hou rugby speel? Indien wel, op watter vlak?
- Ek wil graag aanhou rugby speel, eers op universiteit.
Wat was jou grootste enkele hoogtepunt van jou rugbyloopbaan tot dusver?
- Toe ons die 2023 liga gewen het en deurgedring het na die Noordvaal finaal.
Neem jy voor en ná die rugbyseisoen aan ander sportsoorte deel? Indien wel, wat?
- Nee, ek neem nie aan ander sportsoorte deel nie, maar ek is konstant in die gym.
Met watter professionele rugbyspeler wil jy graag koffie drink?
- Ek sal baie graag saam met Pieter-Steph du Toit wil koffie drink!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf