-Dr. André Smith
By die Primêre Skool Jordania in Bethlehem, poog ons om altyd aan die voorpunt van sake te wees. Ons het nog altyd daarin geslaag om op hoogte van tegnologiese vooruitgang te wees en dit op so ‘n manier by die skool te gebruik dat dit tot voordeel van ons leerders, ouers en personeel kan wees.
Daar is talle tegnologiese hulpmiddels op die mark. Dus toets ons altyd of dit binne ons vermoë is en of dit regtig nodig gaan wees om leerders se leerervaring te verdiep of organisasie binne en buite skoolverband sal vergemaklik. By Jordania het ons onlangs opgegradeer na breëband Wifi internet, wat in elke klas beskikbaar is. Elke personeellid het ‘n skootrekenaar wat gebruik word om lesbeplannning en ander administratiewe werk te doen. Verder is daar in elke klas ‘n digitale projektor wat gebruik word tydens lesaanbieding. Personeel maak gebruik van opvoedkundige programme soos Future Fun Caps en Cami Wiskunde. Ander internetgebaseerde hulpmiddels soos Google en Youtube word gebruik vir toetsing, om moeiliker konsepte te verduidelik en om leerders se leerervaring te verdiep.
Ons het hierdie jaar ingeskakel by die Wolkskool van die Skoleondersteuningsentrum. Elke graad 4-7 leerder het toegang tot die Wolkskoolplatform waarop weeklikse opdragte geplaas word. Ouers en leerders kan ook by die huis self gebruik maak van die inhoud wat reeds daarop is. Inhoud sluit in vakinligting, video’s, werksopdragte en aanlynassesserings per graad. So vind inligtingsuitbreiding en leerverdieping plaas. Graad 1-3 personeel gebruik die Wolkskool in die klas deur van die slimboeke en video’s gebruik te maak tydens lesaanbiedings. Ons uitgangspunt is dat vervlegde leer, wat ‘n kombinasie van tradisionele klasaanbiedings en aanlynleer insluit, die effektiefste manier is om kinders opvoedkundig te begelei na hoër hoogtes. Deur slegs van aanlynleer gebruik te maak gaan baie van die interaksie tussen opvoeder en leerder verlore, wat uiters noodsaaklik is vir ontwikkeling en leer.
In die toekoms wil ons ook Kodering en Robotika as deel van die skool se kurrikulum infasseer. Die rasionaal daaragter is dat leerders dit kan gebruik vir probleemoplossing wat rekenaar- en apparatuur gegrond is. Kinders ontwikkel dus robot-oplossings om take te verrig wat relevant probleme kan oplos. Die voordeel vir kinders is dat hulle kennis bekom wat toenemend in aanvraag is. Rekenarisering stimuleer algemene probleemoplossingsvaardighede wat toepaslik is op alle kennisgebiede.
Tegnologie word nie net in die klaskamer gebruik nie. Ons probeer om meer “papierloos” te werk deurdat weeklikse nuusbriewe en ander inligting via sosiale media platforms en e-pos uitgestuur word. Ons het ook tot die besef gekom dat ons meer ouers bereik deur byvoorbeeld belangrike inligting op klasgroepe te plaas. Die inligting is onmiddellik beskikbaar en word deur ten minste 90% van ouerhuishoudings op dieselfde dag gelees waarop dit uitgestuur is.
Jordania maak gebruik van WhatsApp, Instagram, Facebook, Youtube, D6 en AwsumApp om inligting, foto’s, uitslae, ens na ons ouergemeenskap en wyer uit te stuur. Deur tegnologiese hulpmiddels te gebruik maak ons seker dat ons ons reikwydte verbreed.
Iets wat tydens die grendeltyd na vore gekom het en steeds met vrug gebruik word, is dat vergaderings, werkswinkels en opleidingsgeleenthede via Zoom en MSTeams plaasvind. Deur van hierdie hulpmiddels gebruik te maak, maak ons seker dat ons personeel veilig bly en minder tyd uit die klasse is, deurdat reistyd na geleenthede verminder is.
Tegnologie is hier om te bly. By Jordania maak ons seker dat ons dit so goed moontlik gebruik om ons kinders met toekomsvaardighede toe te rus, sonder om die aanleer van basiese vaardighede agterweë te laat.