Christiaan Brandt, ’n Graad 11-leerder by Paul Roos Gimnasium, het die afgelope week aan die gesogte “Dance World Cup South Africa Qualifiers” in Pretoria deelgeneem. Hy verower 4 goud, 2 silwer en 1 brons medalje in die ouderdomskategorie 15-17 jaar en kwalifiseer sodoende vir die SA-span wat in Augustus aan die wêreldkampioenskap in Telford, Engeland sal deelneem.
Christiaan se belangstelling het noodgedwonge op die ouderdom van 9 begin, toe hy sy sleutelbeen gebreek het tydens ‘n rugbywedstryd en geen kontaksport vir 8 maande kon beoefen nie. Christiaan se ma, Elzette Brandt, onthou nog goed hoe “Christiaan staan en rondtrippel het voor die TV as daar musiekvideo`s gespeel is.” Volgens haar het hulle hom eendag afgeneem en die video vir ‘n plaaslike dansstudio gaan wys. Uiteraard het die afrigter oor sy baie elementêre danspassies gegiggel,maar hom steeds aangemoedig om ‘n klas of twee by te woon.
Drie jaar later (en na baie harde werk) is Christiaan as Werêldkampioen by die World Championships of Performing Arts in Los Angeles, Amerika bekroon. Vandaar het hy verdere opleiding ontvang in New York waarna sy loopbaan behoorlik as danser aanhou groei het. Christiaan is opgelei in Hip Hop, Kontemporêr, Jazz, Ballet en Musiekteater.
“Vir my is dans ‘n manier om myself uit te druk deur beweging eerder as deur woorde. Ek hou van dans en dit is my passie. Ek handhaaf ‘n goeie balans in die lewe en speel graag rugby en neem op skool deel aan atletiek. Dans het my geleer om hard te werk vir wat ek in die lewe wil bereik. Ek het die toewyding, dissipline en die fokus wat dit verg om ‘n sukses te maak”, is hierdie talentvolle jongman se benadering tot sy talent.
Dit verg inderdaad toewyding om op hierdie vak te kan kompeteer en Christiaan oefen 3-4 ure per dag, 6 dae per week en voor groot kompetisies tot selfs 7 dae per week en soms tot 30 ure per week.
Christiaan is ’n jongman met sy voete stewig op die aarde al kan hy grasieus deur die lug vlieg. “Ek is baie dankbaar vir die talente wat die Here vir my gegee het en baie trots op my prestasies tot dusver. Dit gaan nie vir my oor die prestasies wat behaal word nie, maar meer oor die erkenning vir al die harde werk wat ek insit om daar bo uit te kom. Dans is my `happy place’ waar ek my emosies sonder woorde kan uitleef. So, ek sien vreeslik uit om te sien wat die toekoms nog vir my sal bring. Dans leer my soveel dinge soos om nederig te bly, regtig hard te werk, deursettingsvermoe, toewyding, dissipline, en nog vele meer. Ek probeer om elke dag harder te werk as die vorige dag,want dan kom die resultate vanself.”
Antoinette de Villiers (direkteur/eienaar – Prestige Youth Dance Company & Rhapsody Dance Centre) is Christiaan se afrigter waar hy vir reeds meer as 8-jaar sy opleiding ontvang. “Hy is n baie talentvolle danser wat altyd vir homself doelwitte stel om die hoogste te bereik in elke kompetisie waarvoor hy voorberei. Sy werkkwaliteit is fenomenaal en as senior solisdanser maak sy omgee, persoonlikheid en respek vir sy mededansers, afrigters en mentors, hom ’n uitsekende spanmaat. Deur die jare is hy verskeie kere bekroon as Wêreldkampioen en dit het hom net die dryfkrag gegee om harder te werk en elke dag meer te gee in elke oefening.”
Die internasionale Dance World Cup bied dansers in Augustus die geleentheid om hul talente en passie te meet teen ander talentvolle dansers van regoor die wereld. By elke internasionale kompetisie is daar werkwinkels waar die geleentheid gebied word om te leer by die bestes ter wêreld. Blootstellings is baie groot en het al in die verlede tot beursgeleenthede vir Christiaan in Amerika en Europa gelei.
Christiaan bly ‘n vurige rugbyspeler wat Paul Roos Gimnasium onlangs in Engeland verteenwoordig het tydens ‘n rugbyuitruilprogram. Op hierdie stadium en gegewe sy verdeelde passies, het hy nog nie werklik besluit watter rigting hy na skool wil inslaan nie. Daar is baie geleenthede in beide rigtings so of dit nou as professionele rugbyspeler of professionele danser gaan wees, sal net tyd leer.
“Al wat ons nou kan doen, is om hom die nodige ondersteuning te gee wat hy nodig het om sy drome uit te leef”, sê sy ma en Paul Roos Gimnasium ondersteun dit heelhartig en hou sy vordering met groot belangstelling dop.
Kontak: Media/ Bemarking by Paul Roos Gimnasium: kwinter@paulroos.co.za
Foto’s verskaf