Die nuwe Paul Roos Gimnasium (PRG) Societas-komitee vir 2020/2021 het sy eerste projek voltooi deur meer as 200 kersgeskenke te reël en af te lewer aan die graad R-, graad 1- en LSEN-leerders van Joostenberg Primêre Skool.
PRG Societas werk elke jaar saam met die School2School Skoenboks-projek, gestig deur Carlie Koch, en Kersgeskenke word persoonlik voorberei vir leerders wat minder bevoorreg is. Elke boks bestaan uit ‘n paar benodigdhede, ‘n nuwe speelding en kledingstuk wat spesifiek vir elke kind gekies is, sowel as ‘n brief wat deur die skenker geskryf is. Hierdie projek se doel is om hierdie leerders aan te moedig met die boodskap dat elkeen spesiaal en geliefd is. Alhoewel COVID-19 ingrypende gevolge gehad het, het die Paul Roos-gemeenskap en sy ondersteuners hul harte oopgemaak om die Kersfeesgees te deel.