Getrou aan sy aard haal Hoërskool Ermelo sy beste weer uit en bederf Matrieks 1997 op hulle 20 jaar reünie met ‘n vars 9 ?C in Oktober!
Dit help sommer om, saam met die 90’s-treffers op die dansvloer die aand, die tipiese Hoëveld reuk van steenkool in die lug en die kraak van die houtvloer op toer deur Nelstehuis, hul geheue te verfris en dadelik die horlosie terug te draai.
Die horlosie het werklik teruggedraai toe hulle die Errie kampus betree. “Ry mens deur vervalle, hartseer plattelandse dorpies oppad na Ermelo, is dit Prozac vir die siel om by die EHS se hekke in te kom,” sê die hoofmeisie van 1997, Helet Wiesner (nèè Conradie). “Nie net lyk alles PRESIES dieselfde as toe ons 20 jaar gelede ons voete afgestof het nie; dit lyk tien keer beter! Pragtige roostuine, nuwe bome, ‘n gedenkmuur, ‘n hokkiekamer en ‘n luukse argief.Ons asems was weggeslaan,” gaan sy vol ekstase voort.
Die pragtige Perdekraal waar ons saamgekuier het die middag tot laat het ook alle verwagtinge oortref.Van klein tot groot het ‘n heerlike tyd gehad en ou stories is opgediep en afgestof.
Dankie aan almal wat die paaie terug Ermelo toe aangepak het om mekaar weer te sien. Dankie aan Ermelo wat ons met oop, vrygewige arms terug ontvang het. Die lewe gaan aan en mens staan te min stil om terug te kyk, maar 28 Oktober 2017 sal ons altyd bybly, net soos ons tyd as Erries lank, lank gelede.