Hoërskool Ermelo het op Maandag 10 September drie krieketspanne op die veld gestuur en die EHS se naam is hoog gehou.
Die o/14A-span het teen Hoërskool Piet Retief te staan gekom. Piet Retief het met hul kolfbeurt slegs 105 lopies aangeteken in hul 20 beurte, weens EHS se goeie boul- en veldwerk. Die Erries het daarna karakter gewys het met die kolf in die hand en het reeds in die sestiende boulbeurt die telling verby gegaan. EHS stap dus met ‘n oorwinning van agt paaltjies van die veld af.
Die Erries se o/14B-krieketspan het Hoërskool Hoogenhout die stryd aangesê. EHS het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Hoogenhout het in hulle 20 Beurte 141/8 aangeteken. Boulers wat uitgestaan het, was Siya Luvuno met 18/4 in sy 4 beurte en Carlo Da Silva met 27/2 in 4 beurte. Hoogenhout het goed geboul en die Erries beperk to 47 lopies. Hoogenhout het die wedstryd gewen met 94 lopies.
EHS se tweede-krieketspan het op hul beurt kragte gemeet met Hoërskool Oosterland. Laasgenoemde het die loot gewen en kolf eerste waar hulle 137/7 aangeteken het. Die Erries se boulers wat uitgeblink het, was Gejhan Thyssen met drie paaltjies vir 30 lopies in sy vier boulbeurte.
Stefan Potgieter, Eben Jonker, Tyron Dewar en Danie van Rooyen het elk ‘n paaltjie gevat. Die span het die 138 lopies wat hul nodig gehad het om te wen in 17.1 boulbeurte met slegs vier paaltjies plat behaal en wen die wedstryd met ses paaltjies. Kolwers wat uitgeblink het, was Stefan Potgieter met 60 lopies, Merger Sibanyoni met 19 lopies en Danie van Rooyen met 20 lopies, n.u.n.
Die o/15A-krieketspan speel teen Hoërskool Oosterland op Donderdag 13 September en wen met vier paaltjies. Uitblinkers met kolfwerk is Wian Swart (53), Corné Jansen van Rensburg (24) en Christiaan Arnoldi (20). Uitblinkers met boulwerk is Corné Jansen van Rensburg met drie paaltjies en Danie Theron met twee paaltjies. Hendrik Louwrens was uitstekend met sy veldwerk met drie uitnemende uitvangskote.
Baie geluk aan die spanne wat gewen het! EHS is trots op julle.











