Netbal Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Carna Theron. Carna is die kaptein van Hoërskool Durbanville se 1ste netbalspan. Carna teken vandag die sewende doel aan in ons nuwe reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op 10 jarige ouderdom (graad 4) begin netbal speel. Ek is baie passievol oor netbal. Die gevoel daarvan om saam met ‘n span ongelooflike mense te speel en my talente op die baan te gebruik, is onbeskryflik en dryf my passie vir netbal. Ek neem nie tans deel aan enige ander sporte nie en fokus net op netbal.
Tans speel tans hoofdoel. Ek het in die verlede ook hoofdoel gespeel asook hulpdoel en ek was ook voorheen al kaptein.
Ons span oefen drie keer per week. Ek gaan op my eie ook na die skool se bane toe om te oefen. Aangesien ek hoofdoel is, spandeer ek gereeld ekstra tyd op my eie om my doele te oefen. Ek dink nie enige speler is ooit perfek nie. Daar is altyd spasie vir verbetering. Ek oefen ekstra op my eie en kry ook ekstra lesse by een van my afrigters. Ek glo ‘n mens kan nooit ophou leer nie.
Paarl Gimnasium
Die wedstryd waartydens ek die meeste gestres het, was die afgelope vakansie toe ons teen Paarl Gimnasium gespeel het. Ek nogal gestress. Die wedstryd was kop aan kop en kon enige span s’n wees. Ons het toe op die ou end met 2 doele gewen!
My korttermyn doelwit is om die volgende ses maande ‘n goeie kaptein wees vir my span. Ek wil ook my span lei om aan die einde van die seisoen as die liga-wenners gekroon te word. In die volgende drie jaar wil ek graag net suksesvol wees in my studies wat ek tot op daardie punt voltooi het.
My top vyf prioriteite tans is: My geloof en familie, Akademie, Netbal (sport), Vriende en om iets goed vir iemand te doen.
Ja, ek sal graag na skool wil voortgaan met netbal. Ek sal graag vir my koshuis wil speel of by ‘n netbalklub aansluit om nog aan die gang te bly. Vir die huidige wil ek eers volgende jaar fokus op my studies en my toekoms. Ek sal nie noodwendig netbal op ‘n professionele vlak najaag nie.
Buiten netbal, hou ek hou daarvan om saam met vriende en familie te kuier en om tyd in die natuur te spandeer. Ek stel baie belang in wat in die wêreld aangaan en hou daarvan om dinge vir ander mense te doen wat hulle gelukkig maak.
Sterk punte
My sterk punte, wat ek glo my ‘n goeie netbalspeler maak, is dat ek altyd rustig is op die baan. Dit vat baie op my opgewerk te kry. Verder is ek is altyd bereid om geleenthede aan te gryp en om te leer.
As kaptein stuur ek, veral voor wedstryde, vir my span motiveringsboodskappe. Ek praat ook baie op die baan en motiveer die meisies tydens die wedstryd. Ek hou ook daarvan om na ‘n wedstryd met die meisies te praat en hulle daaraan te herinner dat hulle altyd op die positiewe moet fokus, maak nie saak hoe klein dit is nie.
As rolmodel kyk ek tans op na een van ons oud-Durbies netbalspeler, Nicola Smith. Ek admireer haar passie en dryfkrag en die feit dat sy al op so ‘n jong ouderdom vir die proteas uitgedraf het. Sy het net weer bewys dat ouderdom jou nie keer om hoë hoogtes te bereik nie!
Volgens my is die grootste uitdaging van die meeste deelnemers aan sport vandag selfdissipline. Ek dink in vandag se gejaagde lewe is dit moeilik vir enige sport-deelnemers om hulself te druk/forseer om te oefen en gedissiplineerd te bly. Maar dit is hier waar karakter bewys word en waar jy eenvoudig net moet tyd maak vir dit wat belangrik is.
Bestuur
Hoe bestuur ek my sport-, akademiese en ander verpligtinge? Dit is moeilik om by alles uit te kom. Jy moet vir jouself ‘n roetine vind wat werk. Ek sal na ‘n dag by die skool aandag gee aan my akademie en huiswerk doen todat ons span oefening het. Wanneer ons nie oefen nie sal ek laat-middag op my eie oefen. Ek sal dan, na oefening, weer aangaan met my akademie. Ek gebruik naweke om te rus en tyd saam met familie en vriende te spandeer.
Van spanwerk het ek geleer dat dit belangrik is om te lei, maar ook soms te volg wanneer die situasie dit vereis. Ek het ook geleer hoe belangrik vertroue in mekaar is vir ‘n span om suksesvol te wees en hoe belangrik dit is vir ‘n span om vir mekaar te speel en nie as individue nie. Op jou eie kan jy nie alles bereik nie, maar as ‘n span is baie moontlik. Om kaptein te wees vir my span hierdie jaar is maklik, want die mense is wonderlik.
WP skole-netbalspan
Een van my hoogtepunte as speler was toe ek vir die eerste keer in 2018 vir die WP skole-netbalspan gekies is. Nog ‘n hoogtepunt was ook toe ek in graad 11 die geleentheid gekry het om vir die 1ste span te speel. As kaptein, tot dusver, was een van my hoogtepunte definitief hoe ons span vir mekaar gespeel het en waar ons regtig ons merk gelaat het teen groot skole. Die feit dat ons nou eers aan die begin van die seisoen is en nog soveel het om na toe te werk, is beslis ‘n hoogtepunt in wording.
Iets wat baie goed vir ons span werk is kommunikasie. Om heeltyd met mekaar te praat op die baan help om beter te speel en beter bewegings uit te voer. Vir myself help dit ook as ek heeltyd half in my kop met myself praat en myself rustig hou. Nog iets wat goed werk vir die span is om die wedstryd net kwart vir kwart te vat. Dit is goed om net te fokus op een kwart op ‘n slag en sommer vinnig-vinnig is die wedstryd verby.
Wanneer ek sien een van my spanlede sukkel met nuwe uitdagings in die spel, sal ek daardie persoon voortdurend motiveer en herinner dat hulle besig is om te leer en steeds op die klein oorwinnings moet fokus. Ek sal ook die speler aanraai om vir die afrigters te vra vir ekstra hulp.
Beste advies
Die beste advies wat ek al van my afrigters ontvang het, is om in myself en my vermoëns te glo. Ek moet nooit ophou werk in ‘n game nie totdat die eindfluitjie blaas.
Hoe my spanlede my beskryf? Ek wou nie raai nie en het dus iemand in die span gevra. My span beskryf my as iemand wat baie rustig is en ander rondom my ook rustig maak. Volgens hulle is my passie vir netbal aansteeklik en maak ek dit, as die kaptein, vir hulle maklik om na my te luister en my leiding te volg.
Ek kan nie een wedstryd as my lekkerste beskryf nie. Daar is so baie. Ek kan nie een uitsonder nie. Elke keer as ek op die baan gaan, beleef ek in elke wedstryd spesiale oomblikke.
Volgens my moet ‘n bekwame afrigter oor die vermoë beskik om sy/haar kennis op ‘n effektiewe en verstaanbare manier aan die spelers oor te dra. Die afrigter moet ook motiverend wees en weet hoe om spelers op ‘n goeie manier te druk om hulle volle potensiaal te bereik. ‘n Goeie afrigter moet die spelers se passie vir die sport net nog meer dryf en moet ‘n lekker omgewing vir die span skep. Ons is baie gelukkig met twee baie goeie afrigters.
Maria Folau
Die professionele netbalspeler met wie ek graag sal wil koffie drink is Maria Folau. Sy het vir Nie-Seeland gespeel. Sy was nog altyd vir my ‘n inspirasie aangesien sy in my posisie gespeel het. Haar akkuraatheid het my altyd gefassineer en ek het ongelooflike respek vir haar harde werk en vir die merk wat sy in die sport, netbal gelaat het. Ek sal graag met haar wil gesels en hoor hoe haar paadjie tot haar sukses gelyk het.
Wat my die gelukkigste in my lewe maak is om tyd saam met my familie en vriende te spandeer. Ook om die doelwitte wat ek vir myself stel te bereik.
Ek kan nie een spesifieke hoogtepunt van die afgelope vyf jaar uitsonder nie, maar ‘n paar wat nou in my gedagtes inkom is om in graad 11 en 12 vir die eerste netbalspan te speel. Om nuwe mense te kon ontmoet deur my hoërskoolloopbaan en om my akademiese doelwitte te kon bereik het, is verdere hoogtepunte.
As ek myself in een woord moet beskryf, is dit passievol.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
http://www.durbanvillehs.co.za/
Foto verskaf