Netbal Kaptein. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool Bastion, Gauteng, se 1ste Netbalspan Kaptein, Twané Oosthuizen. Twané behaal die derde doel in ons reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Twané, op watter ouderdom het jy begin netbal speel?
- Ek het op die ouderdom van 5 jaar begin netbal speel.
Neem jy ook aan ander sportsoorte deel?
- Ja, maar netbal was en is nog altyd ‘n deel van my. Dit maak my gelukkig om te weet dat God my met wonderlike talente geseën het en ek kan daardie talente uitbeeld op die netbalbaan. Ek is ook ‘n middel- en langafstand atleet en ek speel ook jukskei.
Watter posisie speel jy tans? Het jy enige ander posisies in die verlede gespeel?
- Die posisie wat ek meestal nou speel is hulpdoel verdediger (HV), maar ek was vir lank ‘n senter en daarna ‘n hulpdoel (HD). Ek is eintlik oral. Ek het elke posisie al gespeel, maar het die bogenoemde drie posisies die langste gespeel.
Was jy al voorheen kaptein van ‘n netbalspan? In watter graad?
- Ja, in Graad 7 vir die eerste keer en weer vir ‘n eerste span in die begin van Graad 10.
Gedurende watter netbal wedstryd het jy die meeste gestres? Waarom?
- Gedurende ‘n wedstryd teen Crawford College in 2023, omrede dit ‘n vinnige wedstryd was, net nadat ek my enkel beseer het.
Twané, het jy, as Netbal Kaptein, enige doelwitte wat jy graag in die huidige seisoen wil bereik?
- Ek wil graag my spel verbeter. Al sê mense ek speel baie goed, voel ek nog steeds dat daar baie plek is vir verbetering. Ek wil leer om vinniger te wees en steeds die spel op dieselfde tyd beter te kan lees.
Beplan jy om na jou skoolloopbaan voort te gaan met netbal? Indien wel, op watter vlak?
- Ja, ek sal graag wil werk om op internasionale vlak te speel eendag.
Watter skool, indien enige, beskou jy as jul sterkste teenstander?
- Hoërskool Linden.
Wat doen jy, as Netbal Kaptein, om jou span gemotiveerd te hou?
- Ek identifiseer die sterk- en swakpunte van my spanmaats en komplimenteer hulle oor die goed wat hulle mooi en reg doen. Ek gee hulle ook advies oor hoe om die slegte goed te verbeter en werk individueel met die persoon om ‘n oplossing te kry vir hulle foute. Ek kry ook ‘n manier vir hulle om dit anders, of beter te doen.
Is daar ‘n afrigter of netbalspeler na wie jy tans opsien as rolmodel en hoekom?
- Dukies, Suid-Afrika se Nasionale netbal kaptein. Hy het ‘n groot passie vir netbal wat my baie inspireer. Sy onophoudelike uithouvermoë, harde werk, gesindheid teenoor sy spanmaats en opponente, is werklik inspirerend. Hy gee nooit op nie en stap altyd ‘n ekstra myl of twee vir sy span, maak nie saal wat op die telbord staan nie.
Wat was jou grootste netbal nagmerrie/ ervaring tydens ‘n wedstryd? Indien enige.
- Ek het in 2022, tydens ‘n wedstryd, seergekry toe my opponent my in die lug gestamp het en ek op my skouer geval het. Die gedagte op daardie oomblik was dat ‘n besering my van my sport, wat alles vir my beteken, kan ontneem, Dit was regtig skrikwekkend en het my gemotiveer om goeie kondisionering vir my spiere en alles te doen.
Wat het jy omtrent spanwerk geleer sedert jy Netbal Kaptein geword het?
- Dit het my laat besef dat ek nooit alleen is nie. Ek het geleer om my spanmaats op my hande te dra, om hulle goeie en slegte dae te lees en hulle gevoelens ook in ag te neem. As Netbal Kaptein sien jy in jou spanmaats se oë wanneer hulle seer het, negatief is of uit idees uit is om hulle foute te verbeter. Ek het agtergekom dat my span ‘n kaptein nodig het wat hulle sal help in plaas daarvan om te baklei. Dit is my doelwit as kaptein, om hulle altyd die beste van myself te gee wanneer hulle hulp nodig het.
Beskryf jou hoogtepunte wat jy beleef het in netbal as speler en/of as Netbal Kaptein.
- Ek het myself nooit as ‘n verdediger gesien nie, maar vandag, as ek dit speel, ‘impress’ ek myself met hoe ver ek gekom het van ‘n aanvaller na ‘n verdediger. Ek kan verandering in my spel sien. Ek is trots op myself omdat ek by my spanmaats hoor hoe baie ek hulle help as kaptein op die baan en langs die baan.
Wat was die beste advies wat jy al van jou afrigter/s ontvang het?
- My afrigter het vir my gesê om in myself te glo. As ek glo ek kan en gaan ‘n onderskepping kry, dan is daar ‘n baie groot kans dat ek dit dan wel gaan kry en dit is waar. As ek glo, dan word alles op die baan waar.
Watter wedstryd was die lekkerste wedstryd wat jy ooit gespeel het?
- Dit was ‘n wedstryd op ons toer hierdie jaar in ons finale. My span het tot die einde geveg, heeltyd saam gewerk en gekommunikeer. Alles in daardie wedstryd was asemrowend en my hart was so vol van trots oor hoe ver ons gekom het.
Watter wedstryd was sover in jou loopbaan jou moeilikste wedstryd?
- My wedstryd in 2023 teen Hoërskool Florida.
Twané, as jy ‘n kombuis-artikel sou wees, wat sal jy wees? Hoekom?
- ‘n Maat-koppie, want al weet jy daardie koppie kan net ‘n sekere hoeveelheid vat, gooi jy nogsteeds ekstra in dat hy oorloop. My koppie loop oor van liefde, geduld, omgee en harde werk.
Met watter professionele netbalspeler sou jy graag wil koffie drink? Waarom?
- Jeante Strydom, Suid-Afrikaanse netbalspeler. Ek sal wil hoor hoe sy gekom het tot waar sy vandag is. Ek wil haar vra hoe sy die uitdagings wat oor haar netbal-pad gekom het, oorkom het. Ek wil ook eintlik net haar sin vir humor in lewende lywe ervaar.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf