Netbal Kaptein. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool Langenhoven, Riversdal, se kaptein van die 1ste Netbalspan, Khiara Hans. Khiara behaal die sewende doel in ons reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Khiara, op watter ouderdom het jy begin netbal speel?
- Ek het op die ouderdom van sewe jaar begin netbal speel. Ek was toe in Graad 1.
Is jy werklik passievol oor netbal? Hoekom?
- Ja ek is beslis passievol oor netbal. Netbal is my manier om van alles stresvol en sleg te vergeet in my lewe en net myself te geniet by oefening, op die baan en in wedstryde. Dis nie net ‘n passie nie maar ook ‘n leefwyse. Al die ure se oefening wat wys in ‘n wedstryd is een van die beste oomblikke! Netbal leer jou ongelooflik baie lewenslesse en hoe om baie dinge in jou lewe te hanteer.
Neem jy ook aan ander sportsoorte deel?
- Nee, ek neem slegs aan netbal as ‘n sportsoort deel.
As Netbal Kaptein, watter posisie speel jy tans? Het jy enige ander posisies in die verlede gespeel?
- Ek speel tans WD (Wing defense) en GD (Goal defense), alhoewel ek van Graad 1 af tot Graad 9 GK (Goal Keeper) was.
Was jy al voorheen kaptein van ‘n netbalspan? In watter graad?
- Nee ek was nog nie, hierdie is my eerste jaar as Netbal Kaptein.
Gedurende watter netbal wedstryd het jy die meeste gestres? Waarom?
- Verlede jaar het ons teen Hoërskool Stellenbosch tuis gespeel. Die wedstryd was baie moeilik en ons as span het baie hard gewerk die hele wedstryd deur. Ons was gelykop en dit was die laaste senter afgooi vir Stellenbosh, waar ek toe die bal onderskep het en ons ‘n doel aangeteken en met een punt die wedstryd wen.
Khiara, het jy, as Netbal Kaptein, enige doelwitte wat jy graag in die huidige seisoen wil bereik?
- Ja, om my laaste jaar wat ek aan skole-netbal deelneem my alles te gee en harder te werk as ooit saam met ons hele span, sodat ons as ‘n ongelooflike span onthou kan word en ons voetspore nalaat vir die toekomstige spanne.
Beplan jy om na jou skoolloopbaan voort te gaan met netbal? Indien wel, op watter vlak?
- Ja ek sal graag koshuis-netbal speel vir die universiteit waar ek gaan studeer volgende jaar.
Watter skool, indien enige, beskou jy as jul sterkste teenstander?
- Hoërskool Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn.
Wat doen jy, as Netbal Kaptein, om jou span gemotiveerd te hou?
- Voor elke wedstryd praat ons die “game plan” deur en ek probeer om almal gefokus te hou tydens opwarming en die wedstryd. Gedurende die wedstryd en tussen die kwarte moedig ek hulle aan om aan te hou veg vir die wedstryd, ongeag wat die telling is.
Is daar ‘n afrigter of netbalspeler na wie jy tans opsien as rolmodel en hoekom?
- Ons vorige afrigter, Tannie Lynette. Ek het in Graad 10 by haar begin speel en sy het my liefde vir netbal laat groei. Sy het my ook baie waardevolle lewens- lesse geleer en die heel belangrikste een wat ek nooit sal vergeet nie is om vir Jesus te speel en nie vir jouself nie. Om Hom te ken in alles wat jy aanpak in jou lewe en om nederig te bly ten alle tye. As dit nie vir haar was nou sou ek nie die speler wees was ek vandag is nie.
Wat was jou grootste netbal nagmerrie/ ervaring tydens ‘n wedstryd? Indien enige.
- In 2022 het ons teen Langenhoven Gimnasuim gespeel en een van ons spelers, ‘n Doel, het gedurende die wedstryd haar skouer uitgehaak. Ons moes die wedstryd klaar gespeel het met baie emosies, sonder een van ons doele en vol bekommerisse. Dit wil ek vir seker nooit weer ervaar nie.
Wat het jy omtrent spanwerk geleer sedert jy Netbal Kaptein geword het?
- Die belangrikheid daarvan en dat die een speler nie sonder die ander een kan funksioneer nie. Afsonderlik het ons elkeen ons rol en ons doen dit vir die groter prentjie – om as ‘n span saam te speel. Wanneer een speler nie haar 100% gee in die wedstryd nie, moet iemand anders 120% gee en die ander speler weer oplig. Dit is iets wat Coach Iseldri ons geleer het vanjaar en wat ons deur elke wedstryd dra.
Beskryf jou hoogtepunte wat jy beleef het in netbal as speler en/of as Netbal Kaptein.
- My hoogtepunte was om elke jaar interskole te wen en om te weet die hele jaar se harde werk was die moeite werd en ook sodoende die seisoen goed af te sluit!
Wat was die beste raad wat jy al van jou afrigter/s ontvang het?
- Om nooit op te hou veg nie, al is ons telling hoe ver agter. Jy hou nooit op met speel nie en jy laat sak nie jou kop in die wedstryd nie. Geen skool is te groot en sterk om teen te speel nie. Jy speel die netbalspan en nie die skool se naam nie, ongeag wie hulle is.
Watter wedstryd was die lekkerste wedstryd wat jy ooit gespeel het?
- Verlede jaar, by die Paarl Gimnasium Netbaltoernooi, het ons teen Pearson High School gespeel. Dit was ‘n baie kompeterende wedstryd en die telling was baie naby aan mekaar gedurende die wedstryd. Ons het die wedstryd gewen met twee punte en dit was een van daardie “wow moments” vir ons as ‘n span.
Watter wedstryd was sover in jou loopbaan jou moeilikste wedstryd?
- Ons het teen Hoërskool Framesby in die reën gespeel verlede jaar op ons astro baan. Dit was baie moeilik om teen so ‘n sterk span te speel en die weer was so ongunstig. Ons het met baie blou kolle en skrape daar weggestap soos ons gegly en val het.
Khiara, as jy ‘n kombuis-artikel sou wees, wat sal jy wees? Hoekom?
- Ek sou ‘n “spatula” gewees het sodat ek enige oomblik in die wedstryd die bal baie vinnig kan draai in guns van my span, en kan verander in die wedstryd van “attack” na “defense.”
Met watter professionele netbalspeler sou jy graag wil koffie drink? Waarom?
- Courtney Bruce. Sy het vir Australië se Nasionale Netbalspan gespeel. Sy is die GK (goal keeper) en haar verdedigende vaardighede is ongelooflik en hoe goed sy die baan kan lees en weet wanneer om vir die onderskeppings te gaan. Sy is my gunsteling netbalspeler en ek sal graag advies van haar kry oor hoe om my vaardighede te verbeter.
Meer skolenuus: https://schoolsthetrock.co.za
Foto verskaf