Netbal Kaptein. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool De Aar se kaptein van die 1ste Netbalspan, Antoné Menne. Antoné behaal die negende doel in ons reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Antoné, op watter ouderdom het jy begin netbal speel?
- Ek het op 6-jarige ouderdom my eerste netbalwedstryd gespeel.
Is jy werklik passievol oor netbal? Hoekom?
- Ja, ek is. Dit het my ‘n jaar sonder netbal, in graad 8, gevat om dit te besef. Ek was nog nie een oomblik spyt oor my keuse om weer netbal te begin speel nie. Ek geniet die deelname in spanverband en hoe ons as spanlede saamwerk om elkeen se volle potensiaal te bereik.
Neem jy ook aan ander sportsoorte deel?
- Ja, ek neem ook deel aan atletiek en tennis.
Watter posisie speel jy tans? Het jy enige ander posisies in die verlede gespeel?
- My hoofposisie is Senter, maar ek help ook uit op enige posisie waar die span my benodig.
Was jy al voorheen kaptein van ‘n netbalspan? In watter graad?
- Nee, hierdie jaar is die eerste keer wat ek as Netbal Kaptein gekies is
Gedurende watter wedstryd het jy die meeste gestres? Waarom?
- Dit was tydens Interskole, want dan rus die verpligting om die skool se naam hoog te hou op jou skouers.
Het jy enige doelwitte wat jy in die huidige seisoen wil bereik?
- Ja, my doelwit is om as ‘n span so goed as moontlik in die liga te presteer en om my laaste jaar van netbal in die hoërskool ten volle te geniet.
Beplan jy om na jou skoolloopbaan voort te gaan met netbal? Indien wel, op watter vlak?
- Ek sal dit geniet om op universiteit voort te gaan met netbal en ook om my as netbalskeidsregter te bekwaam.
Watter skool, indien enige, beskou jy as jul sterkste teenstander?
- Elke skool bied sy eie uitdagings en ek dink dit is belangrik om op sportgebied nooit enige teenstander te onderskat nie.
Wat doen jy, as Netbal Kaptein, om jou span gemotiveerd te hou?
- Ons werk goed as ‘n span saam en almal motiveer mekaar.
Is daar ‘n afrigter of netbalspeler na wie jy tans opsien as rolmodel en hoekom?
- Ons netbalafrigters, Mev. Johandrie Nel en Mev. Jeanie Koen, stel baie goeie voorbeelde vir ons om na te volg. Hulle is nie net passievol oor die sport nie, maar dra ook elke individuele speler se belange op die hart.
Wat was jou grootste netbal nagmerrie/ervaring tydens ‘n wedstryd? Indien enige?
- Daar is goeie en slegte oomblikke op ‘n netbalbaan, maar nog nie een ervaring was so sleg dat ek dit sal beskou as ‘n nagmerrie nie.
Wat het jy omtrent spanwerk geleer sedert jy Netbal Kaptein geword het?
- Jy hoef nie kaptein te wees om die belangrikheid van spanwerk te besef nie. “A champion team beats a team full of champions.”
Beskryf jou hoogtepunte wat jy beleef het in netbal as speler en/of as Netbal Kaptein.
- Dit is altyd lekker om te wen, maar die lekkerste wedstryde is as elkeen sy bes gee en veg tot die einde toe, ongeag die resultaat.
Wat was die beste advies wat jy al van jou afrigter/s ontvang het?
- Moenie op die foute fokus wat jy en jou spanmaats maak nie. fokus eerder op die volgende stap wat geneem moet word om sukses te behaal.
Beskryf jou lekkerste wedstryd wat jy ooit gespeel het.
- Toe ek kleiner was het ons familie op die plaas netbal gespeel met ‘n English Bulldog wat help verdedig het. Dit was altyd groot pret.
Watter wedstryd was sover in jou loopbaan jou moeilikste wedstryd?
- Toe ek die eerste keer in ‘n lang tyd van my oorspronklike posisie geskuif is. Dit was ‘n uitdaging, maar ek is ook dankbaar vir elke nuwe vaardigheid wat ek kon aanleer.
Antoné, as jy ‘n kombuis-artikel sou wees, wat sal jy wees? Hoekom?
- ‘n Mes – meeste van die tyd skerp en word met respek behandel.
Met watter professionele netbalspeler sou jy graag wil koffie drink? Waarom?
- Bongiwe Msomi, die huidige Protea netbalkaptein. Lengte speel vandag ‘n belangrike rol in netbal en sy is die kortste speler in die span. Ek en sy is omtrent ewe lank (ek is so 3cm korter as sy) en hierdie feit, sowel as haar energie op die netbalbaan, is inspirerend.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf