Musiekkonsert. Op Vrydag, 22 April, het ‘n groep plaaslike musikante onder die naam van ErmeloMusiekMeesters hul eerste musiekkonsert aangebied. Onder die vaandel van die ABK van Zijl Kunstesentrum is die konsert aangebied in ‘n volgepakte Ouditorium.
Die eerste helfte was in ‘n klassieke styl. Die jong opkomende pianis, Tamar Randell, het die aand geopen met ’n skitterende gememoriseerde vertolking van haar Unisa graad 8-program. Tussendeur het Elsa Winckler en Frans Boshoff pragtige gedigte voorgelees. Dis opgevolg deur die bekende “Gabriel’s Oboe” op trompet. Dit is gespeel deur Loutjie du Toit met sang deur Venetia Rose, Lion du Plessis en Phila Dladla. Met die immergewilde Voshaarnooi is die eerste helfte op ‘n hoogtepunt afgesluit.
Die tweede helfte van die musiekkonsert is afgeskop op ‘n vrolike noot. Die MusiekMeestersorkes het bestaan uit oud-Erries en musiekpersoneel. Daarna het die a capella sanggroep, “Oh yes let’s” die gehoor met hul pragtige harmonieë bekoor. Gewilde treffers soos “Something stupid”, “Perhaps love” en “Shallow” is gesing deur Elanie Smit, Lion du Plessis en Phila Dladla. Phillip Randell het op die saksofoon ‘n gevoelvolle vertolking van “Perfect” gegee.
Immergroen treffers
Met immergroen treffers is die aand op ‘n hoë noot afgesluit. Dié bydrae is gelewer deur die baie gewilde Dirkie van Staden op kitaar. Lizanne Dippenaar op viool, Andrew Roos op akkordeon, klavier en baskitaar en Phila Dladla op dromme het die prentjie voltooi.
Die entoesiastiese applous na elke item en die meelewing van die gehoor was ‘n bewys van die waardering wat die gehoor vir hierdie kunstenaars gehad het. Alle fondse wat deur die musiekkonsert gegenereer is, gaan aan die Musieksentrum. Die organiseerder van die konsert en afgetrede hoof van die Musieksentrum, me Marguerite Jacobsz, het belowe dat hulle sal terug wees. Daar sal beslis nog optredes deur die ErmeloMusiekMeesters in die toekoms wink!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf