Matrikulant as regisseur. “Dit was moeilik en stresvol, maar ook lekker” sê Matrikulant as regisseur.
Nadat Lee-Anne Mouton haar eerste teks van ses A4-blaaie klaar geskryf het, het sy besef die storielyn is te kompleks en het sy ’n tweede poging aangewend.
Die resultaat – “In die helder donker”, die teks vir Oranje se toneelopvoering op vanjaar se ATKV Reza de Wet-tienertoneelfees.
Die tweede teks is uit die eerste een gebore. Hierdie eerste poging was dus eintlik ’n oefenlopie, sê Lee-Anne, wat van November tot Maart aan die skryf was.
“Ons as tienermeisies haak dikwels in stereotipes vas. Dis belangrik om die mens agter die stereotipe raak te sien. Jy kan nie iemand beoordeel bloot op iemand se gedrag nie,” sê sy oor vanjaar se leerderproduksie.
Met ’n leerderproduksie is leerders self vir al die aspekte van die opvoering verantwoordelik. Lee-Anne is behalwe as teksskrywer ook die regisseur. Sy is ook vir die tegniese aspekte verantwoordelik.
Oor haar rol as regisseur sê sy dis moeilik en stresvol, maar ook lekker. “Jy het die finale sê en jou visie speel uiteindelik op die verhoog af.”
Miana Fourie is saam met Lee-Anne vir die klank en beligting verantwoordelik. Die spelers is Theresa-Louise Fourie, Miné Truter, Cara Conradie, Dominique du Plessis en Caitlin Erasmus.
“In die helder donker” word 1 Julie om 10:00 in die ML Spiessaal opgevoer. Bywoning is gratis.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrocksa.co.za
Foto verskaf










