Ligbron Akademie vir Tegnologie 2009 Matrikulante Reünie.
Die 2009 matrikulante van Ligbron het die afgelope naweek hulle 10 jaar Reünie gevier. Die oud-leerlinge het Saterdag, 5 Oktober, onder leiding van mnr. Kobus Stander en juf. Lenie van Zyl op ‘n toer deur die skool gegaan. Die groep was baie beïndruk met alles wat Ligbron oor die laaste 10 jaar bereik het. Dit was ook vir die groep ‘n groot voorreg om mnr. Dup van Rensburg by die geleentheid te verwelkom. Mnr. Dup se teenwoordigheid was vir die leerders iets besonders en hulle bedank hom graag vir die tydjie wat hy afgeknyp het om in te loer.
“Baie dankie aan Ligbron en sy personeel wat vir ons die skool se fasiliteite beskikbaar gestel het om ons reünie te vier. Dit was vir ons ‘n groot voorreg om te sien wat Ligbron alles bereik het. Ons is voorwaar trots op ons skool!”