Leierskapontwikkeling. Die 2023-Solidariteit Jeug Hoofleiersontbyt, wat Leierskapontwikkeling ten doel het, was besonders. Vanjaar is ook Solidariteit Jeug se 5de verjaardag.
Hoërskool Die Wilgers se hoofleiers, Klara Wimmers en Kevin Nieman, het hul skool by die gesogte ontbyt verteenwoordig. Hoofleiers van regoor Gauteng is genooi om saam te kuier en leierskapsbande te smee.
“Die hoofleiersontbyt het vir ons ‘n groter perspektief gegee oor verskeie tipe leiers wat mens kry. Dit was baie lekker om al die skole se hoofleiers te ontmoet en te hoor wat hulle vir hulle termyn beplan,” vertel Klara.
Me. Anke Rothman, ‘n Mej Suid-Afrika 2023-finalis het die leiers toegespreek. Sy het getuig oor die belangrikheid van leierskap en geloof. Sy het ook gedeel dat jou drome grensloos kan wees. Soms gebeur vreemde dinge met jou, maar dit kan ten goede vir jou uitwerk.
Kevin vertel: “Die kos was uitstekend en die gasspreker, Me. Anke Rothman, se boodskap het ons geïnspireer om groter te droom vir wat ons in ons termyn wil bereik. Ons moet ons persoonlike toekomsdrome nastreef.”
Die leiers is deur die musiekduo, “ONS”, vermaak. Nuwe vriendskapsbande is gesmee en oues is versterk. Dit bly vir Die Wilgers ‘n voorreg om hul leiers die blootstelling te kan gee, veral by sulke leierskapontwikkeling geleenthede.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf